Betowering ... Ek het nog altyd geglo dis die hoofbestanddeel in my Toorkombuis. En dit gaan nie net oor die alchemie van die kospotte nie. Ja, dit ís suiwer betowering. Maar dit gaan ook oor die liefde en verwondering wat jy in jou diepste wese ervaar wanneer jy daar in die kombuis doenig is.
Dis harde werk om daardie betowering lewend te hou. Veral in hierdie tye – eers die virus en nou die oorlog ... Dit gebeur so maklik dat stres en roetine jou pootjie en jy spartel om te oorleef. Ek baklei hard daarteen, doen wat ek kan om die sprokie lewend te hou.
My hele kombuis (en huis) is vol heksies – 21 van hulle. Daar is die heks en haar helper in my voorhuis, vier in my slaapkamer, twee in die gang en die res in die kombuis. Drie van hulle laat hoor so af en toe ’n nare hoonlag wanneer ek iets in die kombuis laat val. En dan is daar die heksehuisie waar die besem voor die agterdeur geparkeer staan.
Maar dit het niks te doen met regte heksery of towerkuns nie Ek het ook towenaars, feetjies, engeltjies ... en ’n magdom paddas. Daar is die paddaprins wie se bek al nerfaf gesoen is maar steeds padda bly. ’n Paar klippaddas sit geduldig en wag onder die hibiskus in my agtertuin. En dan is daar die opsitpadda op sy eie klein bankie op my stoep
Dit gaan alles oor die sprokieswêreld wat ek as kind vir myself opgetower het. Suiwer betowering. Ja, ook in my kombuis. Net om my elke dag daaraan te herinner om fyn te trap en nie in die donker gat van die gewone te val nie.
Tydens daardie eerste moeilike maande van die grendeltyd het ek vasgeval met ’n groot kruie-en-speserye-boek wat my geleer het om die wonderlikste kruie-en-spesery-mengsels aan te maak en in flesse in die kombuis te hou. Ek het nog altyd my eie kerriepoeier en braaisouse gemaak, maar hierdie boek het my nog verder geneem. En ek het nog verder gaan delf – gegoogle en nog meer in ou boeke oor kruie en speserye gaan oplees.
........
Ek het ook deur ’n hele stapel feeverhale en sprokies van oor die hele wêreld gewoel. En die towerwêreld van Alice Hoffman herontdek. My oë het oopgegaan vir die ongelooflike betowering wat my omring – in my kombuis, in my tuin, die sagte golwing van die berge rondom my en die wonder van die wolke wat oor my huisie hang. Die soeke na betowering het meer as ontvlugting geword – dit was oorlewing.
..........
Ek het ook deur ’n hele stapel feeverhale en sprokies van oor die hele wêreld gewoel. En die towerwêreld van Alice Hoffman herontdek. My oë het oopgegaan vir die ongelooflike betowering wat my omring – in my kombuis, in my tuin, die sagte golwing van die berge rondom my en die wonder van die wolke wat oor my huisie hang. Die soeke na betowering het meer as ontvlugting geword – dit was oorlewing.
En dit bly steeds ’n stryd ...
Ek het Sondagoggend moeg en moedeloos by my kombuistafel sit en koffie drink. ’n Regte Martie Martelgat ná ’n week van sukkel. Ek het net besef ek kan nie langer toelaat dat die werklikheid my verswelg en die betowering laat verdwyn nie. Ek het lank en diep sit en dink. My koffie het later koud geword sonder dat ek dit agtergekom het.
Ek het my uit my mymeringe losgemaak en begin dink aan al die dinge wat ek die dag moes doen. Ek het room gekoop om roomys te maak. Laat ek sommer daarmee begin, dink ek toe by myself. En dis asof dit net mooi die towerwoord was waarna ek gesoek het om my uit die gat van die gewone te red.
Die gedagte aan die roomys wat ek moes maak, het my teruggevoer na ’n sprokiesmooi Saterdag in Januarie. Ek moes 16 liter roomys maak vir my nefie se troue. (Vyf-en-neëntig brownies ook, maar dis nie nou hier ter sake nie.)
My broer, wat op sy dag ’n landdros was, het self sy seun getrou. En in die kort boodskappie wat hy gegee het, was die hooftema dankbaarheid – dankbaar dat ons as familie saam met vriende hierdie bruilof kan vier. Dankie, dankie, dankie. Vir die kontak. Die samesyn ...
Aan die bruilofstafel gesels ek met die bruidegom se ander tannie en sy vertel my van haar seun wat in die grendeltyd twee keer sy troue moes uitstel en toe uiteindelik maar, met net ’n paar getuies, voor die landdros in die huwelik bevestig is. En my broer se boodskap oor dankbaarheid het diep in my hart kom lê.
En daar op die heilige Sondag het die gedagte aan roomys my weer teruggevoer. Ek het skielik besef ek soek verniet na betowering as daar nie dankbaarheid in my hart is nie.
..........
En daar op die heilige Sondag het die gedagte aan roomys my weer teruggevoer. Ek het skielik besef ek soek verniet na betowering as daar nie dankbaarheid in my hart is nie.
.........
Ja, die oorlog in Oekraïne het die kospryse, die lewenskoste, laat styg en dit gaan nog erger raak. Maar ek het nie nodig om met ’n karige paar besittinkies en my kat in my arms oor die grens te vlug nie.
Uit die diepte van my hart is ek dankbaar ek kan nog vir my mense kook in my Toorkombuis. Ver van die bomme wat val, en veilig gekoester. Ek kan selfs roomys maak. Sommer drie verskillende soorte.

Foto: Karen Hart
Karen se lemoen-en-lemmetjie-ro
omys
Lewer ongeveer 2 liter roomys
1 lemoen
2 lemmetjies
1½ koppies versiersuiker
2 koppies room
Rasper die skil van die lemoen en een van die lemmetjies. Druk die sap uit van die lemoen en al twee die lemmetjies. Meng die sap en skil met die versiersuiker totdat die suiker opgelos het. Giet die room by en klits styf. Skep die roomys in ’n vrieshouer (van ongeveer 2 liter) wat met ’n deksel dig toemaak. Plaas in die vrieskas. Dit neem ongeveer 4–5 uur voordat die roomys reg is. Dis nog beter as jy dit ongehinderd oornag kan vries.
Karen se bloubessieroomys
Lewer ongeveer 3 liter roomys
2½ koppies bloubessies (bevrore of vars)
2 eetlepels water
¼ koppie suiker
2 teelepels lemmetjie- of suurlemoensap
’n knippie sout
2 koppies room
1 blikkie kondensmelk
2 koppies volroom bloubessiejogurt
4 eierwitte, styfgeklits
Gooi 2 koppies van die bloubessies, die water, suiker, lemmetjie- of suurlemoensap in ’n katrol en kook oor matige hitte vir 10 minute (15 minute vir bevrore bessies). Meet die tyd vanaf die oomblik dat jy die stoofplaat aanskakel. Giet die oorblywende ½ koppie bloubessies by en kook vir nog 5 minute (7 minute indien bevrore). Haal van die hitte af en laat heeltemal afkoel. Klits die room styf en voeg die kondensmelk en jogurt by. Klits saam tot deeglik gemeng voordat jy die bloubessiemengsel byroer en baie goed meng. Vou die styfgeklitste eierwitte met ’n metaallepel in die mengsel in en skep in vrieshouers met deksels wat dig toemaak. Plaas in die vrieskas vir minstens 4 uur of oornag.
Karen se koffiekaramelroomys
Lewer ongeveer 3 liter roomys
1 liter room
1 blikkie kondensmelk
1 blikkie gekaramelliseerde kondensmelk
1 teelepel vanielje
2 eetlepels espresso-koffiepoeier, aangemaak met 1 eetlepel kookwater
4 eierwitte, styfgeklits
Klits die room styf en voeg die kondensmelk en karamelkondensmelk by. Klits saam tot deeglik gemeng voordat jy die vanielje en koffiemengsel byroer en baie goed meng. Vou die styfgeklitste eierwitte met ’n metaallepel in die mengsel in en skep in vrieshouers met deksels wat dig toemaak. Plaas in die vrieskas vir minstens 4 uur of oornag.
WENK: As jy die roomys vinniger wil laat vries, kan jy dit in kleiner, individuele porsies verdeel en in klein vriesbakkies vries. ’n Mens kry baie van die bakkies by Chinese winkels of handelaars wat in plastiekware spesialiseer.
The post Ek sê dankie met roomys appeared first on LitNet.