Quantcast
Channel: Kos en wyn - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 173

Naaldekokers en sjokolademuffins

$
0
0

Foto’s: Pixabay

Die son het oopmond gelag in ’n plassie water op die paadjie in my agtertuin. Dis waar ek hom die eerste keer gesien het. Die viervlerkige klein feekind het baldadig om my voete gedans. Ek kon hom nie miskyk nie. Daarvoor het hy gesorg. Met elke tree wat ek gee, het hy saamgedans.

My gedagtes was net vóór dit elders en baie donker toe ek met die paadjie af loop om te gaan kruie pluk. Dis ’n ewige gemeet en pas om deur die dag te kom en Covid en my ma se demensie te oorleef. Ek het skaars die voëls hoor sing.

Toe dwing die klein blou lyfie met sy silwer vlerkies my tot stilstand en ek staan ek kyk hoe hy om my voete ronddans. Eers het ek gedink ek verbeel my, maar toe wéét ek – hierdie klein naaldekoker wil hê ek moet vir hom kyk, hy wil hê ek moet weet van hom.

.......

En terwyl ek my so staan en verwonder aan die mooie klein dingetjie, swig ek voor die betowering van my tuin. Ek verwonder my aan die lieflike ligspel van son tussen takke en blare en ek hoor die uitbundige gekwetter van die voëls in die groot ou peperboom van my buurman.

..........

En terwyl ek my so staan en verwonder aan die mooie klein dingetjie, swig ek voor die betowering van my tuin. Ek verwonder my aan die lieflike ligspel van son tussen takke en blare en ek hoor die uitbundige gekwetter van die voëls in die groot ou peperboom van my buurman.

Die volgende dag het ek Paasfeeskos vir die tydskrif geskiet. Die fotograaf hou van natuurlike lig en die agtertuin is ideaal daarvoor. Ek het ’n paar Paasblinkers uitgepak wat ek present gekry het. Dit was weggepak tussen ander klein blinkertjies. Toe ek later opruim, sien ek dat een van die blinkertjies wat aan die Paasversierings bly kleef het, op die paadjie geval het, op die plek waar ek my eerste ontmoeting met die kleine naaldekoker gehad het. En wat sou dit wees? ’n Klein silwer naaldekokertjie!

Jy kan dit maar afmaak as suiwer toeval – ek weet van beter. Ek het kleintyd al dansplekkies vir feetjies in ons dorre Karootuin gemaak. En soggens vroeg gaan kyk of daar enige tekens is van ’n deurnag se opskop. As jy jou oë en hart oopmaak, sal jy die betowering om jou raaksien.

.......

Met elke oggend se opstaan help die natmaak van my tuin om die donkerte uit kop en hart te verdryf. My klein popspeel-plaashuis-sonder-die-plaas het boorgatwater, en wanneer ek eers die pomp aan die gang het en die tuinslang met sy watersproei skuif totdat elke hoekie natgemaak is, voel ek sommer weer mens.

.........

Met elke oggend se opstaan help die natmaak van my tuin om die donkerte uit kop en hart te verdryf. My klein popspeel-plaashuis-sonder-die-plaas het boorgatwater, en wanneer ek eers die pomp aan die gang het en die tuinslang met sy watersproei skuif totdat elke hoekie natgemaak is, voel ek sommer weer mens.

Ek het al elke skuif van die sproeier mooi fyn uitgewerk en ek hou mooi tyd van hoe lank die water by elke hoekie moet loop. En telkens wanneer ek by daardie klein hoekie grasperk kom waar die sproeier sukkel om by te kom en ek moet staan en kyk dat dié stukkie dorsland ook sy waterdeel kry, onthou ek van die waterstryd tussen my pa en ou oom Van Zyl ...

Toe my pa skoolhoof op Volmoed was, het hy eindelik, ná ’n groot gesukkel, geld by die departement vir ’n rugbyveld vir die skool gekry. Die seuns was al gewoond aan die klippiesveld waarop hulle gespeel het, maar die besoekende spanne het nie kans gesien vir die nerfaf knieë van elke duikslag nie.

Dit was ’n groot dag toe die stootskrapers gekom en ’n mooi veld gelyk gestoot en uitgelê het. Die grasveld het mooi begin vorm aanneem en my pa het met groot genoegdoening self ’n oog gehou wanneer dit die skool se leibeurt was en die sluise oopgetrek is. Hy het gestaan en kyk hoe die water oor die veld loop, maar elke keer, net voor ’n klammigheidjie daardie laaste hoekie kan bereik, was sy leibeurt verby. Dan moes die sluise toegemaak en langsaan by oom Van Zyl se grond oopgetrek word.

My pa se hart het gebreek vir daardie een droë, geel hoekie in ’n grasveld wat al geil en groen begin wys het. Op ’n dag kon hy net nie meer nie. Toe sy leibeurt verby is, het hy die sluise oopgehou en weggekruip. Dit was toe ook nie lank nie of oom Van Zyl se bakkie het met ’n gespat van gruisklippies voor die skool stilgehou. Teen die tyd dat hy my pa gekry het en die vrede herstel is, was die grasveld van hoek tot kant mooi nat.

Elke keer wanneer ek tuin natmaak, borrel die lag hier in my binneste wanneer daardie toneeltjie hom weer en weer voor my afspeel. En ek onthou ook die groot blydskap wanneer ’n sterk stroom water raakgeboor is.

En so het die waterdruppels wat in die son blink op elke blaar en lig spieël in plassies op die grond, nuwe betowering gebring. My eie klein dansende naaldekoker ...

Dis asof hy elke keer geweet het wanneer ek in die tuin gaan wees. Wanneer ek opgekyk het, was hy daar. Nou die dag het hy sy maat saamgebring en nie gerus voordat ek hulle al twee raakgesien het nie. ’n Ander keer het ek by die wasgoeddraad staan en droom. Die draad was leeg en uit die hoek van my oog het ek gesien hoe my naaldekoker hier op die draad digby my kom sit. Toe gesels ek met hom, soos ’n mens maar maak wanneer ’n naaldekoker jou kom opsoek.

Wanneer ek op my lekker gietystertroon gesit en lees het, het naaldekoker langs my in die sonnetjie op die randjie van die erdepot waarin my suurlemoenboompie geplant is, kom sit. En hy het geduldig toegelaat dat ek die een foto na die ander van hom neem. Kunsfoto’s is dit beslis nie – daarvoor was die son te skerp. En jy moet ’n goeie verbeelding hê om die naaldekoker raak te sien. Maar die foto’s op my selfoon is voos gekyk. Wanneer jy dit mooi vergroot, sien jy die gesiggie is die ene oë. En dis so ’n wyse, alsiende gevreetjie  ...

Op ’n dag was hy nie meer daar nie. Ek het elke keer wanneer ek die tuin natmaak, hoopvol gewag. Later het ek besef hy kom nie weer terug nie. Ek het op die internet gaan soek en gelees van die naaldekoker se kort lewetjie. En ek het in my hart gehuil oor die verskriklike gemis. Maar ek het ook geweet niks kan daardie kosbare oomblikke van my wegneem nie.

.......

My naaldekoker het my weer die betowering om my laat raaksien. Hy het my hart lig gemaak. Die lekkerte van dans-dans deur die lewe gaan, is dat jy die vrugteskommel en muesli van die tafel kan vee om plek te maak vir ’n sondige espresso en ’n dekadente sjokolademuffin wat jou van kop tot tone met gesmelte sjokolade besmeer.

........

My naaldekoker het my weer die betowering om my laat raaksien. Hy het my hart lig gemaak. Die lekkerte van dans-dans deur die lewe gaan, is dat jy die vrugteskommel en muesli van die tafel kan vee om plek te maak vir ’n sondige espresso en ’n dekadente sjokolademuffin wat jou van kop tot tone met gesmelte sjokolade besmeer.

Die lewe is lekker. Die lewe is kort. Lank sal my naaldekoker nog in my hart dans.

Karen se dekadente sjokolademuffins

Lewer 12 muffins

2⅓ koppie koekmeel
2 teelepels bakpoeier
½ teelepel koeksoda
2 eetlepels kakao
¾ koppie strooisuiker
1 x 150 g- en 1 x 80 g-blok donkersjokolade, grofweg gekap
1 koppie melk
90 ml olie
1 eier
1 teelepel vanielje.

Meng die droë bestanddele en die gekapte sjokolade van die 150 g-blok in ’n groot mengbak. Klits die melk, olie, eier en vanielje saam in ’n kleiner mengbakkie en roer versigtig by die droë bestanddele. Moenie te veel roer nie. Skep die deeg in ’n 12-gat-muffinpan wat met papierhouertjies gevoer is. Sprinkel die sjokoladestukkies van die 80 g-blok sjokolade bo-oor en bak vir 20 minute in ’n voorverhitte oond van 200º C. Geniet dit terwyl dit nog warm is en die gesmelte sjokolade nog lekker kan smeer. Maar dis koud ook lekker.

Proe die betowering en sê dankie vir elke viervlerkige feetjie wat die lewe weer lig en lekker maak.

The post Naaldekokers en sjokolademuffins appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 173


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>