Quantcast
Channel: Kos en wyn - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 173

Erfeniskos in Erfenismaand

$
0
0

Waterblommetjies (foto: verskaf)

Al hierdie getjommel oor Erfenismaand het my sommer van voor af in opstand laat kom. Oor ’n ouma by wie ek so baie kon leer en te vroeg van my weggeneem is. En die ander ouma wat my ma van kleins af weggestoot en haar niks van die lewe, wat nog te sê van die kombuis, geleer het nie.

Maar die ontevredenheid en al die vrae oor my weeskindstatus in die kombuis het my ook van voor af dankbaar gemaak vir die mense wat hul harte en kombuise vir my oopgemaak het. Ek proe hulle in elke pot wat op my stoof prut en elke baksel wat uit my oond kom.

Daar was die tannie op Victoria-Wes. Ek, toe skaars vier, en my boetie, nog kleiner, het by haar kombuistafel gesit en ons verwonder aan die afdruk van De breede weg en de smalle weg wat daar teen die muur gehang het. En die lieflike omhelsing van die geur van varsgebakte brood.

My ouma Drienie, my pa se ma, het my oor Kerstye by die strandhuis na klein kiosks gestuur om tiekies te gaan haal vir die Krismispoeding. Sy het my ook geleer om die lekker soetsuur komkommerslaai te maak waarvoor ek nou nog so lief is. Ek was agt en dit was in daardie tyd toe Neil Armstrong op die maan geloop het.

Dit was ook daardie selfde Kerstyd dat sy daar in die strandhuis inmekaar gesak het. Ek sou nooit weer saam met haar smiddae by die radio sit en help resepte afskryf met Esmé en Jan se So maak mens nie. Al wat ek van haar oorgehou het, is ’n oefeningboekie met ’n paar handgeskrewe resepte en ’n paar kerk- en basaarresepteboekies.

Ek was dertien toe ’n rooiwangseun vir sy mondeling in die Engelse klas ’n trollie by die deur ingestoot en gedemonstreer het hoe ’n mens komkommertoebroodjies maak. Daar was niks spesiaals aan sy metodes nie en sy aanbieding was allermins so flambojant soos dié van die latere TV-sjefs. Maar dis net daar, in die stowwerig klaskamer, dat ek besef het kosmaak is meer as om net te sorg dat jou huismense iets op die bord het wanneer hulle by die tafel kom aansit.

Van daardie oomblik af het ek ’n spons geword. Die mense, die plekke, die geure is te veel om op te noem – ek kan ensiklopedieë vol skryf van al die kosdinge en invloede wat oor my pad gekom het. Die klassieke styl van ’n meester soos Peter Veldsman, die ou Hildebrand-restaurant se Aldo Girolo, en dan was daar die flambojante Fiamma ... net ’n paar van die menigte wonderlike kosmense wat my inspireer het. Ek het, sonder dat ek dit besef het, stelselmatig gebou aan my eie koserfenis.

Karen Hart en Cass Abrahams (foto: verskaf)

Maar die persoon wat die grootste invloed op my koslewe gehad het, is Cass Abrahams.

Ek het haar die eerste keer ontmoet toe ons toevallig aan dieselfde tafel beland het by ’n flouerige kosteater waar alles skeefgeloop het. Die aand was ’n fiasko, maar ek was spyt toe dit tot ’n einde kom – ek kon nog ure lank geluister het na die wonderlike vrou se stories.

Toe haar boek The culture & cuisine of the Cape Malays verskyn, het ek dit onmiddellik aangeskaf en dit het my kookbybel geword. Vóór Cass was my kennis van speserye beperk tot die karige aanbod op die rakke van die supermark. Ek kon nie wag om meer te leer van die nuwe wêreld wat sy vir my ontsluit het nie. Vandag is my eie kombuis ’n towergrot van welriekende kruie en speserye in ’n magdom van flessies en blikke.

Ons tweede ontmoeting – in lewende lywe – het gekom toe ek skaars begin werk het as kosredakteur vir Kuier. Ek het ’n einaklein kombuisie in my woonstel daar teen Leeukop gehad en dis daar waar ek al die geregte moes voorberei vir die fotosessies vir die tydskrif. Daardie een keer moes Cass ook ’n paar resepte vir ’n promosieartikel kom berei. Dit het maar bars gegaan in daardie klein posseël van ’n kombuis, maar sy het vir my die mooiste boodskap voor in my boek geskryf en my agterna vertel sy sê elke aand vir haar man sy bid vir die vrou met die klein kombuis.

Sy het vir my nog méér gedoen as daardie wonderwêreld van geur ontsluit. In die beginjare van my loopbaan as kosredakteur van Kuier het ek eenkant gevoel en was ek desperaat vir ’n bietjie aanvaarding. Met die Suidoosterfees daardie jaar het Kuier ’n spesiale lesersdag aangebied en ek en Cass moes beide ’n kosinsetsel lewer. Ek was baie senuweeagtig en het vreeslik geïntimideer gevoel, want ek moes net ná Cass op die verhogie verskyn.

Sy het nie op die seremoniemeester gewag nie, maar dit sommer op haar geneem om my aan die gehoor bekend te stel. “En,” voeg sy toe by, “hierdie vrou kook al beter as ek.”

Natuurlik was dit nie waar nie, maar dit was asof ek tuisgekom en deel van die familie geword het.

’n Dag of twee voor die grendeltyd het ek ’n dierbare vriend verloor. En tydens hierdie vreemde paar maande moes ek afskeid neem van ’n hele paar mense wat ’n groot invloed op my lewe gehad het. Dit het my net laat besef hoe belangrik dit is om te sê wat jy wil sê terwyl daar nog tyd is: Dankie, Cass, vir my kosbare erfenis.

Ek het in die Karoo grootgeword en maar eers hier in die Kaap met waterblommetjiebredie kennis gemaak. Ek het by Cass, uit haar boek, geleer hoe om dit te maak. En namate ek meer selfvertroue gekry het, het ek die resep aangepas en my eie gemaak. Ook met die hulp van my eie ouma se wondersout.

Vir my is dit erfeniskos op sy beste.

Foto van Cass Abrahams: verskaf

Karen se waterblommetjiebredie

Genoeg vir 6

3 eetlepels olie
3 groterige uie, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
7 wonderpeperkorrels
5 naeltjies
1½ kg lamsvleis (ek gebruik ’n mengsel van stowevleis, nek en ribbetjie)
½ koppie droë witwyn (of water)
1 kg waterblommetjies, oornag in soutwater geweek
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 opgehoopte teelepel wondersout
6 groterige aartappels, geskil en in kwarte gesny
gerasperde skil van 1 suurlemoen
1 eetlepel suurlemoensap.

Verhit die olie in ’n groot swaarboompot en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, brandrissie, wonderpeper en naeltjies by en braai vir ’n minuut of twee saam voordat jy die vleis byvoeg. Laat liggies stowe vir so 10–15 minute of totdat die vleis sy eie bruinerige sous begin vorm. Voeg die witwyn by en die helfte van die waterblommetjies. Geur met sout en peper en voeg die wondersout by. Bedek die pot, verlaag die hitte en laat vir 1–1½ uur stadig prut. Voeg die aartappels en res van die waterblommetjies by en laat prut vir nog ’n uur of totdat die vleis van die bene afval en die waterblommetjies en aartappel murgsag is. (Daar is mense wat verkies dat die waterblommetjies nog onder hul tande kraak – ek is nie een van hulle nie.) Bedien saam met ’n lekker witrys en geniet elke happie terwyl jy met diepe dankbaarheid dink aan die mense wat die erfenis so mooi gemaak het.

Wenk: Eintlik moet jy suring gebruik vir daardie tikkie surigheid in jou waterblommetjiebredie. My tweede man se ouma het geglo aan ribboksuring. Maar toe ek hierdie seisoen eindelik waterblommetjies in die hande kry, was daar nie meer ’n enkele suring in my tuin oor nie. Jy kan veldsuring (sorrel) ook gebruik, maar dis selde dat jy dit in die supermark kry. Ek weet deesdae is dit mode om spekboomblaartjies te gebruik, maar dis ’n smaak wat my siek gemaak het in my kinderdae en is beslis nie iets waarvan ek hou nie. Suurlemoenskil en -sap werk goed, maar wees versigtig om dit nie te oordoen nie. Ek vind die kombinasie van die wondersout, witwyn en suurlemoen werk die beste vir my.

En hier is die resep net weer vir Ouma se wondersout:

1 teelepel growwesout
7 eetlepels swartpeperkorrels
2 eetlepels fyn naeltjies
2 eetlepels fyn neutmuskaat
2 eetlepels fyn kaneel
3½ eetlepels droë basiliekruid
3 eetlepels fyn foelie
3 eetlepels koljander
3 lourierblare.

Maal al die speserye saam fyn in ’n speserymeultjie of in jou voedselverwerker totdat dit die tekstuur van fyn sout het. Bêre dit in ’n skroeffles en gebruik ’n teelepeltjie op ’n slag om enige gereg op te kikker. Dit hou tot ses maande lank as jy dit nie voor die tyd opgebruik nie.

The post Erfeniskos in Erfenismaand appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 173