
Foto: Wikipedia
Blertsie kom elke dag vir my in my kombuis kuier. Net so ’n vinnige heen-en-weertjie. As ek gelukkig is, kom loer hy sommer so twee, drie keer op ’n dag in. Met sy borriegeel borsie en vrolike gefladder dra hy die sonskyn met hom saam, tot in my toorkombuis en diep in my hart.
Wanneer hy my nie in die hande kry nie, laat hy vir my ’n boodskappie … of drie. Dis immers hoekom ek hom Blertsie noem.
Met die intrekslag al het ek die twee in my tuin opgemerk. Altyd aan die speel. Altyd saam. Flertse van borriegeel, met ’n vrolike gekwetter en fladderende vlerke tussen die hibiskusse en nou by die goudgeel trosse lukwarte voor my agterdeur. Maar wanneer Blertsie vir my kom kuier, kom hy alleen.
Die eerste keer toe ek die voëltjie in my kombuis sien, het ek gedink hy het dalk per ongeluk hier ingevlieg en ek was versigtig om hom nie paniekerig te maak of te laat skrik nie. Maar die volgende dag was hy terug en het ’n bietjie langer getalm tussen die heksies wat voor my kombuisvenster hang, glad nie skrikkerig nie.
Daarvandaan het hy elke dag kom kuier en elke keer seker gemaak ek wéét hy is daar. Die een oggend het ek diep in gedagte by my kombuistafel sit en koffie drink. Toe word ek bewus van ’n beweging en sien die voëltjie wat met fladderende vlerke in die lug bokant my kop hang. Eers toe ek hom groet, het hy omgedraai en by die deur uitgevlieg.
Wanneer ek besig raak, is daar altyd ’n oomblik wanneer ek tot stilstand kom en wonder of Blertsie al kom kuier het. Dan soek ek net vir die vars blertsies voëlmis op my kombuisrakke of teen die deur. Dis sy boodskappies aan my, glo ek. “Ek was hier, maar jy was seker uit …”
Een Sondagoggend, toe ek vir my ma ontbyt in die bed neem, hoor ek net ’n geskarrel en geskree in die gang. My ergste vrees … Bliksem hol ewe breëbors met Blertsie in sy bek sitkamer toe.
Ek weet ek mag nie inmeng met ’n kat en sy prooi nie, maar dis hier waar ek die streep trek. Snags voor ek aan die slaap, spook honderde paniekerige muisgevreetjies by my, almal slagoffers van my kattekinders. Nie Blertsie nie, o nee.
Gelukkig het Blertsie losgekom en onder die gordyn agter my ma se groot stoel gaan inkruip. Ek het Bliksem vinnig gegryp en in my slaapkamer gaan toemaak. Toe maak ek die voordeur en al die vensters in die sitkamer wyd oop.
Laat die ou voëltjie eers kalmeer, besluit ek en gaan sit rustig saam met my ma en ontbyt eet. Toe gaan ek terug sitkamer toe en begin met klein Blertsie gesels. Met dié dat hy my stem hoor, loer hy versigtig agter die gordyn uit en spring hier by my op die rusbank se leuning voordat hy op die vensterbank en toe by die venster uit is.
Ek is agterna by die voordeur uit stoep toe om seker te maak hy het nie seergekry nie. En daar sit hy op die tafeltjie vir my en wag. Eers toe vlieg hy weg. Nou sal ek hom seker nooit weer sien nie, dink ek en ’n vreemde hartseer en ongelooflike gevoel van verlies oorval my.
Maar die volgende oggend is hy terug. Nog voor ek my tweede koppie koffie kan skink, vlieg ’n vrolike klein Blertsie deur die traliehek voor my agterdeur. En my hart jubel. (Dit lyk ook darem nie asof Bliksem permanente sielkundige letsels oorgehou het omdat ek sy prooi afgevat het nie.)
Vandat Blertsie in my lewe gekom het, is dit asof ek meer intens bewus is van die voëls daarbuite. Ek het nooit voorheen besef die voëls begin al só vroeg in die oggend te sing nie – nog lank voor dit lig word, lank voor die Iman se bidroep deur die oggendstilte weerklink.
Dis asof daardie ou bekende aanhaling van die Bengaalse digter Rabindranath Tagor nuwe betekenis vir my gekry het: “Faith is the bird that feels the light and sings when the dawn is still dark.”
Blertsie, met sy borriegeel borsie en sy trawante se vrolike voëlgesang, kleur my hart en my kombuis ’n sonskyngeel, nog lank voor die donkerte gewyk het. Dan toor ek met kruie en speserye en kook lekker kerriefrikkadelle op ’n goudgeel borrierys, flertse sonskyn vir die donker wolke en reëndag daar buite.
Karen se allerlekkerste kerriefrikkadelle op borriegeelrys
Genoeg vir 6

Foto: verskaf
Vir die kerriesous
2 eetlepels botter
2 eetlepels olie
3 groterige uie, gehalveer en in skywe gesny
3 knoffeltooontjies
1 x 3 cm knoets vars gemmer, fyngekap of gerasper
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
2 koppies beesvleisaftreksel
3 eetlepels appelkooskonfyt
2 eetlepels koekmeel
2 eetlepels klewerige donker bruinsuiker
1 teelepel sout
1 eetlepel matige kerriepoeier
2 teelepels borrie
90 ml bruinasyn
1 koppie kookwater
Vir die frikkadelle
1 kleinerige ui, fyngekap
1 knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
1 x 1 cm knoets vars gemmer, fyngekap of gerasper
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en in stukkies gekap
2 snye ou witbrood, verkrummel
1 groterige wortel, geskraap en gerasper
1 groterige murgpampoentjie, fyngekap of gerasper
1 teelepel borrie
2 teelepels kerriepoeier
1 eetlepel appelkooskonfyt
1 eier
1 kg beesmaalvleis
Vir die borriegeelrys
3 eetlepels botter
2 koppies rys
2 teelepels borrie
1 teelepel sout
5 koppies kookwater
1 kaneelstokkie
Verhit die botter en olie in ’n groot swaarboomkastrol. Braai die uie daarin tot goud en deurskynend. Voeg die knoffel, gemmer en brandrissie by en braai vir ’n minuut of twee saam. Roer die appelkooskonfyt by die aftreksel en giet in die pot. Meng die koekmeel, bruinsuiker, sout, kerriepoeier, borrie en asyn goed saam en roer by. Indien die sous te dik is, voeg die kookwater by. Bedek die pot en laat vir 20 minute oor lae hitte prut. Maak die frikkadelle: plaas al die bestanddele vir die frikkadelle in ’n groterige bak en gebruik jou hande om dit goed te meng. Vorm frikkadelle so groot soos tafeltennisballe en plaas dit in die sous. Rol elke frikkadel ’n slag om sodat dit alkant met die sous bedek is. Bring die sous tot kookpunt, verlaag die hitte, bedek die pot en laat vir 20 minute prut of tot die frikkadelle deurgaar is. Maak intussen die rys: verhit die botter in ’n kastrol en giet die rys daarin. Meng goed sodat elke ryskorrel met botter bedek is. Braai vir ’n paar minute. Voeg die borrie en sout by en giet die kookwater by. Plaas die kaneelstokkie in die kastrol. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en bedek die kastrol. Laat 20 minute prut totdat die rys sag is en die vloeistof weggekook het. Skep vir elkeen rys op die bord en frikkadelle en sous bo-op.
Wenk: Hierdie frikkadelskottel is nóg lekkerder as jy jou eie kerriepoeier maak. Jy kan deesdae enige spesery aanlyn koop en jou eie mengsel aanmaak.
Karen se kerriepoeier
Lewer ongeveer 250 – 300 ml kerriepoeier

Foto: verskaf
2 eetlepels komynsaad
2 eetlepels fenugriek
1/2 eetlepel mosterdsaadjies
1 eetlepel swartpeperkorrels
8 eetlepels koljandersaad
1 eetlepel papawersaad
1 eetlepel fyn gemmer
1 teelepel rissiepoeier
2 eetlepels borrie
Meng alles saam en maal fyn in ’n speserymeultjie. Ek gebruik ’n koffiemeul wat ek net vir my speserye gebruik. Bêre in ’n lugdigte flessie en gebruik soos wat jy dit nodig kry.
The post Blertsie se geel appeared first on LitNet.