Quantcast
Channel: Kos en wyn - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 173

Internasionale erkenning vir kosblogger Ilse van der Merwe

$
0
0

Ilse van der Merwe se pragtige resepteboek, Cape Mediterranean, is onlangs gepubliseer en sy het reeds ’n internasionale prys daarvoor ingepalm (haar resepteboek, Cape Mediterranean, is aangewys as die Suid-Afrikaanse wenner in die Mediterreense kategorie by die Gourmand World Cookbook Awards). Remona Voges het met Ilse gesels. 

Ilse van der Merwe (foto's: verskaf)

Hallo Ilse. Jy is bekend as kosblogger. Hoe het The Food Fox tot stand gekom?

Ek het einde 2010 ’n groot begeerte gehad om van loopbaan te verander (vanaf musiekbestuur na iets in die koswêreld) en het die blog begin om hopelik ’n voet in die deur te kry met my gekombineerde liefde vir skryf en kook. My musiekbesprekingsagentskap se naam was al die jare Red Fox Events, so The Food Fox was so half ’n tong-in-die-kies uitvloeisel daarvan.

Jou resepteboek, Cape Mediterranean, is aangewys as die Suid-Afrikaanse wenner in die Mediterreense kategorie by die Gourmand World Cookbook Awards. Baie geluk daarmee! Kan jy ’n bietjie meer oor dié kompetisie vertel asseblief?

Ek moet eerlik wees ─ ek het geweet van die kompetisie, maar ek het nie eens geweet my uitgewer het die boek ingeskryf nie! Dit was vir my ’n reuse-verrassing. Al wat ek voorheen van die Gourmand toekennings geweet het is dat Suid Afrikaanse outeurs baie graag inskryf, want om op ’n globale vlak erkenning te kry is van groot waarde vir ons almal, en maak gewoonlik ’n daadwerklike verskil aan boekverkope. Nou ding my boek verder mee met ander lande se wenners in die Mediterreense kategorie (ek dink daar is in totaal 18 wenboeke in hierdie kategorie, van lande soos Turkye, Monaco, Griekeland, Frankryk, Portugal ens) om die titel vir beste Mediterreense kookboek in die wêreld, volgens die Gourmandtoekennings. Ek vier ELKE mylpaal vir hierdie boek, so al kom daar niks verder hiervan nie, is dit vir my reeds fantasties!

Wat is Kaaps-Mediterreense kos presies? En hoe verskil dit van tradisionele Mediterreense disse?

Kaaps-Mediterrreense kos is ’n natuurlike interpretasie van klassieke Mediterreense resepte en manier van eet/onthaal, maar al die bestanddele is eg aan die Wes-Kaap. Ons het mos ’n natuurlike Mediterreense klimaat hier, so alles wat jy in die Mediterreense streek kry, kry jy ook hier ─ en fantastiese kwaliteit as jy reg kies. Suid-Afrikaners eet steeds heelwat meer vleis as in die Med, en ons olyfolie-kultuur is nog jonk en relatief klein, maar mense omarm al hoe meer die klassieke Mediterreense leefstyl en manier van onthaal.

Vanwaar jou belangstelling in dié spesifieke kossoort?

Ek was maar nog altyd net baie diep aangetrokke tot Mediterreense kos! Alles, van pizza en pasta tot geroosterde groente, en tapas en mezze, en tzatziki en olyfolie, en focaccias en charcuterie, en goeie kaas ─ daai soort kos maak my grensloos gelukkig!

Fotografie deur Tasha Seccombe, stilering deur Ilse van der Merwe en Tasha Seccombe

Sal jy so gaaf wees om een van jou resepte in die boek met ons lesers te deel?

Alte graag! Hier is ’n maklike resep vir ’n krakerige, vars, groen slaai met baie min bestanddele, maar elke keer as ek dit maak dan smul die mense daaraan en vra die resep. Dis net seldery, groen appel en vars vinkelbolle wat jy baie fyn sny (’n mandoliensnyer of voedselverwerker werk beste) en dan bedruip met ’n slaaisous van olyfolie, vars suurlemoensap, heelkorrelmosterd en ’n bietjie heuning. Hemels saam met vis of hoender op ’n warm somersdag!

VINKEL-, SELDERY- EN GROENAPPELSLAAI:

Fotografie deur Tasha Seccombe, stilering deur Ilse van der Merwe en Tasha Seccombe

Bestanddele: (bedien 6 as ’n bykos)

  • 2 groot vinkelbolle, afgespoel
  • 2 lang stingels seldery
  • 1 groot Granny Smith-appel
  • ongeveer 15 ml (1 eetlepel) vars suurlemoensap
  • 30 ml (2 eetlepels) ekstra suiwer olyfolie
  • 10 ml (2 teelepels) heelkorrelmosterd
  • sout en peper na smaak

Metode:

Sny die vinkelbolle en ’n bietjie van die vinkelfraaiings baie fyn met ’n mandoliensnyer en plaas in ’n mengbak. Sny die seldery ook baie fyn en voeg by. Sny die appel in fyn strokies en voeg by (sonder die skil). Gooi dadelik die suurlemoensap, olyfolie en mosterd by, en meng dit saam tot dit oraloor goed nat is. Geur met sout en peper. Bedien dadelik, of binne ’n uur (of twee) vir beste resultaat.

The post Internasionale erkenning vir kosblogger Ilse van der Merwe appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 173


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>