Quantcast
Channel: Kos en wyn - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 174

Splinterkoekies vir krismis

$
0
0

Dis nou een ou lessie wat die lewe my geleer het – moet nooit ’n heks op haar punthoed en besem takseer nie. In vaalkos skuil baie keer meer geur en ’n magdom van smaakontploffings as op die borde waarop aspirerende klein kunswerke uitgestal is. En moenie ’n koekie aankyk en beoordeel voordat jy daardie eerste hap gevat het nie …

Sy was een van my eerste kombuishekse. Ek het haar by my dierbare kluisenaarsvriend gekry. En toe sy eers in my kombuis haar staan gekry het, het die een heks na die ander gevolg. Al my vriende (en familie) het begin hekse aandra – kleintjies, grotes, van hier en van oorsee. Ek het self ook ’n paar aangekoop, drie wat skelle hekselagte laat hoor wanneer iets op die vloer val of, selfs beter nog, aan stukke breek. Ek het nou meer as twintig wat oor my skouer loer wanneer ek voor die kospotte staan.

Ek het opgelees oor kombuishekse. Hulle is die goeies. En ek het dadelik aanklank gevind by die wonderlike lewenslessie wat deel is van die Europese kombuishekskultuur. Dit kom kortliks daarop neer dat jy alles met liefde in jou hart moet doen, selfs skottelgoed was en vloere mop. Jy moet die natuur respekteer, by die seisoene hou en ’n huis en tuin skep wat wys hoe dankbaar jy is vir alles wat jy so mildelik ontvang.

Maar toe vind ek later uit daardie eerste heks is nog meer spesiaal. Ek het op bestelling gebak vir ’n wonderlike Italiaanse vrou wat ek by my marktafel ontmoet het. Toe sy haar soetgoed kom afhaal, val haar oog op dié heks. “A, Le Befana!”, roep sy uit en vertel my hoe deel van die Italiaanse kerskultuur hierdie ou vroutjie met haar mandjie en besem is. Dit was net genoeg om my goed nuuskierig te maak en ek gaan lees toe op oor Le Befana.

Daar is verskillende weergawes van die kerslegende. Le Befana was ’n huisvrou van formaat, heeldag aan die werk – wanneer sy nie voor die stoof aan die kook of bak was nie, was sy, stoflap of besem in die hand, hard besig om haar ou huisie blinkskoon te maak. Die mense van die ou dorpie waar sy gewoon het, het baie keer gewonder of dit nie maar ’n manier was om die dood van haar eie kind te verwerk nie.

En toe op ’n dag, terwyl sy so hard aan die werk is, is daar ’n klop aan die deur. Sy verwonder haar aan die ryk, geborduurde klede van die drie manne, wyse manne uit die Ooste. Hulle vertel haar toe hulle soek na die kind wat in die stal gebore sou word. Hulle het die ster gevolg tot hier en weet dat dit iewers in die omtrek moet wees. Sy kon hulle nie help nie, maar hulle nooi haar toe in elk geval om die wonder saam met hulle te beleef.

“Jammer, menere! Soos julle kan sien, is ek hard besig om te werk. Ek kan nie nou alles net so laat staan en saam met julle gaan nie.”

’n Rukkie later is daar weer ’n klop aan die deur. Hierdie keer is dit manne in werksklere, skaapwagters. Sy kan hulle nie help nie, maar sy word weer saamgenooi en weer wys sy die uitnodiging van die hand.

Daardie aand, toe Le Befana die kantgordyntjie van haar blinkskoon vensters wegtrek, sien sy die ster. Met ’n swaar hart besef sy sy het ’n groot fout gemaak. Sy pak toe dadelik ’n mandjie en gaan soek self na die kind. Toe sy eindelik by die stal kom, was dit leeg.  Sedertdien soek sy steeds na die kind en elke jaar, twaalf dae na Kersfees, deel sy koekies en lekkers vir kinders uit. Nog steeds in die hoop dat een van daardie kinders dalk die Christuskind is en dat sy die wonder kan beleef van daardie groot gebeurtenis wat sy misgeloop het.

En terwyl ek so lees aan die verskillende weergawes van hierdie sonderlinge Kersverhaal, tref dit my dat Le Befana s’n eintlik my lewensverhaal is en waarskynlik verklaar waarom ek op my gelukkigste is wanneer ek kos en soetgoed kan uitdeel. Die waarheid lê veel dieper as dít, besef ek nou met Le Befana se storie. My drie mislukte huwelike het nooit kinders gebaar nie. Hierdie Le Befana soek steeds na daardie kind.

En wanneer Desembermaand aanbreek, begin ek met nog groter entoesiasme kos maak en mense om my tafel versamel. Dis nie blink skottels wat jou asem laat wegslaan van die mooi nie, maar hartskos wat jou met elke happie laat voel daar is iemand wat omgee, iemand wat jou lief genoeg het om hierdie geure vir jou op te tower. Desember is ook die maand wanneer ek nog meer as gewoonlik bak, want dis nie net koekies vir die winkels nie, maar ook koekies vir weggee. En jy soek verniet na koekies wat lyk na ornamente wat op ’n spieëltafel hoort. Jy dink nog dis doodgewoon totdat jy in daardie brosse genot byt …

Een van dié wat ek die graagste bak, is sjokoladesplinterkoekies – bolangs doodgewoon, maar met elke hap, byt jy stukke sjokolade raak. Dis ’n koekie wat jou laat onthou – die lewe kry nuwe betekenis wanneer jy leer om dieper te kyk.

Karen se Sjokoladesplinterkoekies

(Moenie eens verder na hierdie resep kyk as jy nie van plan is om regte botter en regte, egte sjokolade te gebruik nie!)

Lewer ongeveer 2 – 3 dosyn koekies (afhangend van die grootte)

2 koppies koekmeelblom
1 teelepel koeksoda
1 teelepel sout
225 g botter
¾ koppie suiker
¾ koppie sagte bruinsuiker
1 teelepel water
1 teelepel vanielje
2 eiers
2⅓ x 150 g blokke donkersjokolade, in splinters gekap

Sif die koekmeelblom, koeksoda en sout in ’n mengbak. Room die botter en die twee suikers saam in ’n ander mengbak. Voeg die water en vanielje by die bottermengsel. Klits tot net-net gemeng. Voeg die eiers by en meng liggies. Roer die meelmengsel by en vou die sjokoladesplinters by. Skep die koekiemengsel met ’n eetlepel ongeveer 2 – 3 cm van mekaar af op bakplate wat met bakpapier gevoer is. Bak vir 12 – 15 minute in ’n voorverhitte oond van 180ºC of totdat die randjies en middel ’n mooi bruin kleur het. Laat staan 10 minute op die bakplate om af te koel voordat jy dit op draadrakke uitpak om heeltemal af te koel.

WENK: Jy kan self bepaal hoe soet of minder soet die koekies moet wees deur die sjokolade wat jy gebruik. Vir ’n soeter koekie kan jy melksjokolade in plaas van die donkersjokoldae gebruik, vir effe minder soet kan jy ’n mengsel van melk- en donkersjokolade gebruik.

Lees ook

Pophuise en pampoenkoekies vir die onthou

Die eenvoud van dinge

 

The post Splinterkoekies vir krismis appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 174


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>