Op die heilige Sondag bak ek met bloubessies en bittersjokolade. Muffins met stukkies sjokolade wat op jou tong smelt en bloubessies wat in jou mond oopbars. En my gedagtes gaan ver terug na my klein nessie daar teen Leeukop waar ek eens gebly het – met die berg in my agterplaas en die poue op my voorstoep …
Die woonstelblok waarin ek gebly het, was een van vier blokke op ’n “landgoed” aan die voet van Leeukop. Net ’n draadheining tussen my woonplek en die berg. En dis daar, op die stukkie grasperk tussen my voordeur en Leeukop, waar Percy die pou sommer so uit die bloute uit sy verskyning gemaak het. Niemand het geweet waar hy vandaan gekom het nie. Eers heelwat later het my kluisenaarbuurman uitgevind Percy het weggeloop van ’n geregistreerde pouteler iewers in Higgovale. Hy en sy twee broers is uit Indië ingevoer – die boeties is Durban toe gestuur en Percy het sy eie kop gevolg en daar op die mooi landgoed onder die berg kom woon.
Toe hy die eerste keer daardie stert van hom soos ’n waaier oopvou, het my hart ’n duisend slae gemis. En die rou aardse kreet het my klein wêreldjie kom oopbreek en my deel gemaak van ’n vreemde, mistieke werklikheid. Percy se liefdeskrete en die paringsdans wat hy met daardie imposante veredos van hom uitgevoer het, het op dowe ore geval. Hy was so mooi maar so alleen. Van die inwoners het ’n plaaslike radiostasie gebel en van Percy se soeke vir ’n maat vertel. Maar wyfiepoue luister nie radio nie en dis nou nie asof hulle op elke tweede erf loop en skrop nie.
Dit was eers met ’n trippie teen die Weskus op dat ’n egpaar wat ook daar op Percy se plek gebly het, die pragtige Penelope op ’n volstruisplaas raakgeloop en saamgebring het. Sy is eers in ’n klein skuurtjie daar agter die woonstelle aangehou totdat die tyd reg was om haar aan Percy voor te stel. My kluisenaarbuurman het die ontmoeting bewerkstellig. Nie te lank daarna nie, het die eerste poukinders hul verskyning gemaak – twee seuntjies, Pascha en Piper, en drie dogtertjies, Olive, Daisy en Irene. Daar was nog ’n sesde kuikentjie, maar hy het net ’n paar dae geleef. Buurman het hom vergeefs probeer red, maar agterna met die grootste deernis onder ’n houtkruisie in die agtertuin begrawe.
Met die koms van die kleintjies het Buurman ’n voëlkenner by ’n navorsingseenheid by Klapmuts betrek en ’n hele dieetplan vir die poue uitgewerk. Die saadjies en bessies in die tuin was nie genoeg om hul welstand te verseker nie. Nee, hul dieet moes aangevul word met pappegaaikos (ten duurste by die troeteldierwinkel) en vars bessies. Buurman het ’n hele fondsinsamelingprojek geloods, maar ’n groot deel daarvan het uit sy eie sak – en myne – gekom. Bloubessies was van die begin af die wenner. Duur, ja, maar ek het oë toegeknyp en my oorgegee aan daardie wonderlike gevoel wanneer Percy en Penelope en hul kuikenkinders die bessies uit my hand eet. Buite seisoen het ek maar hart vasgehou en die peperduur besendings bloubessies wat uit Poland ingevoer is by Woolies gaan koop.
Die voerdery was die minste van ons probleme. Penelope het haar kinders gereeld op uitstappies geneem. Buurman het ons telefoonnommers oral gelaat, by die veeartse, by winkels en kafees in die omgewing. Maar hy was ’n kluisenaar, soos ek gesê het, en het bitter weinig sy foon geantwoord. Ek het gereeld oproepe van kafees iewers in Tamboerskloof gekry om te sê Penelope en haar kinders is daar op die sypaadjie. Dan het ek maar ’n verskoning uitgedink om agter my lessenaar by die werk op te staan, in die taxi te klim en te gaan kyk of Penelope en haar kroos veilig is. Daar was nie veel wat ek kon doen nie, behalwe om te bid dat hulle veilig by ons blyplek daar teen die berg sal uitkom.
Die grootste nagmerrie-ondervinding was toe ek een Sondag teen skemeraand in die middel van Kloofnek moes gaan staan het om die verkeer tot stilstand te bring sodat Penelope en haar kinders oor die pad kon stap. Dit was somer en die verkeer was erg. Twee bane buffer-aan-buffer van mense wat heeldag op die strand was en nou haastig terug by hul blyplekke wou kom. In die ander twee bane was die ander weer op pad na die sonsondergang by Kampsbaai en Clifton. Nes ek die poue byna oor al vier bane aan die ander kant van die pad het, hang ’n nuuskierige by die motorventer uit en flits met ’n selfoonkamera. Dan hol die verskrikte poue weer terug oor die pad en ek al fladderend agterna. Moenie vra hoe nie, maar ek en die poue het oorleef en ongedeerd by die huis aangekom.
Dit was nie altyd maklik nie, ja, maar wanneer daardie poue die bloubessies uit jou hand pik en jou lank en takserend met ’n oeroue wysheid aankyk, vergeet jy van al die rondhollery en hoe duur daardie bessies is. En ná my sielsmaat se dood, het Percy tien dae lank op die muurtjie by my voordeur kom sit en waak teen die swart rou. Percy is self nie lank daarna dood nie. Hy was veel ouer as wat ons vermoed het en sy hart kon dit nie meer hou nie. Buurman het die veearts laat kom en Percy styf in sy arms vasgehou totdat die pou-engele hom kom haal het.
Percy is ook daar in die agtertuin begrawe, langs die kleintjie wat dit nie gemaak het nie. En klein Pascha (maar dis ’n storie vir annerdag). Buurman het hom ’n maand lank in sy woonstel toegesluit. En ek? Ek bak met bloubessies en bittersjokolade. Tot vandag toe nog. Vir Percy. Vir die onthou …
Karen se bloubessie-en-bittersjokolade-muffins
Lewer 12 muffins
Vir die muffins
2 koppies koekmeel
2 teelepels bakpoeier
1 teelepel koeksoda
2 eetlepels kakao
¾ koppie strooisuiker
1 x 150 g blok donkersjokolade, grofweg in klein stukkies gekap
½ koppie bloubessies
1 koppie melk
90 ml olie
1 eier
1 teelepel vanielje-ekstrak
Vir die bolaag
12 mollige bloubessies
1 x 80 g blok donkersjokolade, grofweg in klein stukkies gekap
Sif al die droë bestanddele saam in ’n groterige mengbak. Voeg die sjokoladestukkies en die bloubessies by. Klits die melk, olie, eier en vanielje saam in ’n kleiner mengbakkie en giet by die droë mengsel. Gebruik ’n metaallepel en roer tot net-net gemeng. Verdeel die mengsel tussen die 12 bakkies van ’n muffinpan, wat met papierhouertjies uitgevoer is. Sprinkel die sjokolade vir die bolaag oor elke muffin en plaas ’n bloubessie reg in die middel van elk. Bak vir 20 – 25 minute in ’n voorverhitte oond van 200°C.
Lees ook
The post Poue, bloubessies en bittersjokolade appeared first on LitNet.