
Foto’s van brandnetels en van die sout kaaskoek: Karen Hart
.........
Ek is virus-voos. Ek het genoeg gehad van Covid en hierdie erger-as-’n-Hollywood-riller waarin ons so ongevraagd beland het. Elke greintjie menswees in my weier om te aanvaar dat dit die “nuwe normaal” vir die res van my lewe gaan wees.
.........
Ek is virus-voos. Ek het genoeg gehad van Covid en hierdie erger-as-’n-Hollywood-riller waarin ons so ongevraagd beland het. Elke greintjie menswees in my weier om te aanvaar dat dit die “nuwe normaal” vir die res van my lewe gaan wees.
Wanneer my oë soggens oopgaan, begin ek al teen die virus baklei. Ek kan nie waag om ’n bietjie later in die bed te bly nie, want dan begin ek wroeg oor die wurggreep waarin die virus my daaglikse menswees beet het.
Eintlik moet ek dankbaar wees – tot nou toe was ek nog nie siek nie, net ’n bietjie ongemak en olikheid ná die tweede inenting. My 82-jarige ma, wat elke dag opnuut vertel moet word van die virus, was ook nog nie siek nie en het die inentings met groter gemak as ek hanteer.
Dis hierdie doodsheid in my binneste wat my onderkry. Laas toe ek naastenby so gevoel het, was toe ek agt jaar oud was ...
Dit was ’n swart September. Ons het die kortvakansie by my oupa-hulle op Prins Albert gekuier toe my pa skielik Pretoria toe moes gaan vir my tannie se begrafnis. Drie dae later is my oupa dood. Hy was toe al bedlêend, maar ons was baie, baie na aan mekaar en dit het vir my gevoel ek kan nooit weer ophou huil nie.
Drie maande later, met ons Kersvakansie by De Bakke, het my ouma Drienie, my pa se ma, skielik by ons strandhuis inmekaargesak. Dood. Dit was die ouma wat my leer hekel het en my resepte laat afskryf het wanneer Esmé en Jan smiddae vieruur in Só maak mens op die radio was.
Ek kon nie meer huil nie. Ek het gesien hoe hartseer my pa was en ek het gewens ek kon saam met hom huil. Maar ek kon nie. Ek onthou net die nare doodsheid in my binneste. En die kan-nie-meer-voel-nie was vir my baie erger as die ergste hartseer.
........
Ek het nooit weer daardie doodsheid ervaar nie – tot nou. In hierdie 18 maande het ek meer vriende en kennisse aan die dood verloor as in die paar dekades van my bestaan. Die meeste daarvan was Covid- of virus-verwant. Of sommer net opgee omdat die lewe nie meer is wat dit was nie.
.........
Ek het nooit weer daardie doodsheid ervaar nie – tot nou. In hierdie 18 maande het ek meer vriende en kennisse aan die dood verloor as in die paar dekades van my bestaan. Die meeste daarvan was Covid- of virus-verwant. Of sommer net opgee omdat die lewe nie meer is wat dit was nie.
Wat my die meeste ontstel het, is toe ek besef dat hierdie doodse gevoel sy nare benerige vingers begin uitsteek na my kombuis toe. Want dis waar ek veilig voel, waar ek kook en bak wanneer ek bly of hartseer voel. Dis die plek waar ek met kruie en speserye en heerlike soetgebak sin maak van die lewe.
En dis nie asof ek dit maar gelate aanvaar het nie. Elke oggend, wanneer my oë oopgaan, het ek hierdie leegheid die stryd aangesê. My hart het lig geword wanneer ek die voëls en bye in my tuin dophou. Ek het my verkyk aan die mooi wolke en die berge reg rondom my. Ek het gekook en gebak terwyl Callas se stem my kombuis vul. Ek het na harp, viool en klavier geluister terwyl my potte op die stoof prut.
Ek het heerlike geregte gemaak en my mense het behaaglik by die tafel aangesit. Net ek het geweet my hart en siel was nie in daardie potte uitgestort nie. Ek het met elke kosfotosessie vir die tydskrif bloed gesweet om met iets kreatiefs vorendag te kom. Die engele het my gedra. Maar die dooie kol in my hart het gebly. Die inspirasie wat ek gesoek het, het my bly ontwyk.
Ek droom elke nag ek is aan die kook in die kombuis. Iewers, weet ek, is ’n mengsel wat ek aangemaak het en wat ek dringend nodig het om ’n gereg klaar te maak. Maar ek bly soek en ek kan dit nie kry nie. Aand na aand. Net verskillende variasies van dieselfde droom. En wanneer ek wakker word, voel ek moeg en gefrustreerd.
Toe, op ’n dag, beland ek so half per ongeluk by die Soutrivier-mark. En net daar tussen die groente-en-vrugtestalletjies voel ek hoe my hart ontwaak en ek weer begin asemhaal. Dis ’n ontdekkingsreis met alle denkbare groente, vrugte, speserye en kruie wat ek ken en ook dié waarvan ek nog maar net gehoor het.
So tussen die okra en vars artisjokke, kry ek cassava en suikerriet. Ek koop vars borrie, stroopsoet nartjies en salotte. En ek voel hoe my hart oopbars en ek weer die betowering ervaar wat ek voor die virus geken het.
Van daardie markdag af is dit asof die heelal my pad bestrooi met klein verrassinkies wat my weer van voor af die alchemie van die kospotte laat ontdek. My drome is weer van die soort waaruit jy nie wil wakker word nie, wat jy vinnig vasgryp wanneer jy jou oë oopmaak sodat dit nie in die newels verdwyn nie.
......
En toe my buurvrou gisteraand vir my ’n sak vol vars brandnetels oor die heining aangee, kon ek skaars slaap van opgewondenheid. Hul seisoen is baie kort – pure lentekos – en jy moet gou speel.
........
En toe my buurvrou gisteraand vir my ’n sak vol vars brandnetels oor die heining aangee, kon ek skaars slaap van opgewondenheid. Hul seisoen is baie kort – pure lentekos – en jy moet gou speel.
Dis nie net die Italianers wat wonderlike geregte met hierdie veldkos optower nie. Maswazi vertel my dis ’n stapelvoedsel saam met pap gekook in die Oos-Kaap, waar hy grootgeword het. My buurvrou noem dit Afrika-risotto.
Jy kan eintlik in enige gereg waarin jy spinasie sou gebruik het, dit met brandnetels vervang, maar ek sou twee keer dink voordat ek dit vars in slaai gebruik. Jy moet dit eers in kookwater dompel om van die brand ontslae te raak. Ek onthou hoe geniepsig brandnetels my kleintyd oor die kaal skene geslaan het wanneer ek niksvermoedend in die veld geloop het.
As jy nie rubberhandskoene dra wanneer jy daarmee werk nie, gaan jy les opsê. Maar terwyl ek so staan en geduldig die blaartjies een vir een van die stingeltjies aftrek, raak ek skoon verlief op die skarminkel wat my destyds met soveel venyn gestreep het
Ek was so opgewonde oor die brandnetels dat ek gesukkel het om te besluit wat ek daarmee gaan maak – brandnetel-gnocchi was ’n gunsteling, maar toe wen die kaaskoek. ’n Heerlike ligte middagete vir my kleinsus se kuiertjie. Ek het die soutbeskuitjiekrummelkors met een van amandels vervang, want sy sukkel met gluten.
Karen se soutige brandnetel-en-soetrissie-kaaskoek
Genoeg vir 6
1 groot rooi soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in groot stukke gesny
1–2 eetlepels olie
1 koppie amandels
2 eetlepels gerasperde parmesaan
4 eetlepels botter, gesmelt
4 koppies brandnetelblaartjies, dig gepak
4 eiers, liggies geklits
1 x 240 g roomkaas
1 x 250 g gladde maaskaas
1 koppie fetakaas, verkrummel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Plaas die soetrissiestukke met die velkant na bo op die rooster van ’n oondroosterpan en plaas dit ’n paar minute onder die oondrooster wat op maksimum gestel is. Hou fyn dop. Haal die pan uit wanneer swart blasies op die vel begin vorm. Plaas die stukke in ’n plastieksak en bind toe. Laat heeltemal afkoel voordat jy die velletjies aftrek en die stukke in kleiner repies sny. Kap die amandels fyn in die voedselverwerker en meng met die parmesaan en gesmelte botter. Druk die amandelmengsel vas op die bodem van ’n gesmeerde 20 cm-losboomkoekpan waarvan die bodem met bakpapier gevoer is. Gebruik ’n metaallepel om dit mooi gelyk te maak – dit werk die beste. Plaas die pan vir ongeveer 10 minute in die vrieskas en berei solank die vulsel voor. Plaas die brandnetelblare in ’n kastrol kookwater en laat ’n minuut lank staan. Dreineer en spoel onder koue water af. Dreineer goed en gebruik ’n skoon doek om die meeste water uit die blare te druk. Klits die eiers, die drie kase en sout en peper saam en roer die brandnetels en soetrissierepe by. Giet dit op die kors in die koekpan en bak in ’n voorverhitte oond teen 180 ºC vir ongeveer 45–50 minute of totdat die vulsel gestol het. Laat staan vir 10 minute voordat jy dit versigtig uit die pan haal. Bedien warm met ’n lekker slaai. Dis ’n heerlike ligte middagete.
WENK: As jy nie gelukkig genoeg is om brandnetels in die hande te kry nie, kan jy spinasie in die plek daarvan gebruik. Maar as jy eers op die internet geloer en gesien het hoe gesond brandnetels is, vaar jy sommer nou met ’n paar rubberhandskoene die veld in. En selfs al kry jy nie ’n enkele brandnetelblaartjie nie, sal die dag in die veld beslis die virus-voosheid laat wyk.
The post Brandnetels en ’n sout kaaskoek vir almal wat virus-voos is appeared first on LitNet.