Quantcast
Channel: Kos en wyn - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 173

Driving Miss Daisy ... reguit kospotte toe

$
0
0

Foto: Pixabay

........

My liefde vir kook (en bak) het my al op vreemde paaie agter ’n resep aan gelei. Ek het in die kaneelwoude van Sri Lanka leer kerrie kook, by ’n radiostasie in Amsterdam die onverbeterlikste quiche-resep gekry en in die heuwels van Los Angeles in die suide van Amerika ’n kapokaartappel-en-kreef-gereg ontdek.

..........

My liefde vir kook (en bak) het my al op vreemde paaie agter ’n resep aan gelei. Ek het in die kaneelwoude van Sri Lanka leer kerrie kook, by ’n radiostasie in Amsterdam die onverbeterlikste quiche-resep gekry en in die heuwels van Los Angeles in die suide van Amerika ’n kapokaartappel-en-kreef-gereg ontdek.

Hier in my eie land het ek die argief geword vir knipsels en handgeskrewe resepte van tantes en oumas wanneer vriende en kennisse begin kaste skoonmaak. Maar die kosbaarste gerfie het gekom van ’n taxibestuurder ...

Ek het nie ’n motor nie, ook nie ’n lisensie nie. Ek het nog nooit in my lewe bestuur nie. Vir 42 jaar het ek dieselfde metertaxi-maatskappy gebruik en baie van die bestuurders het soos bloedfamilie geword na al die jare saam. Toe die maatskappy ’n paar jaar gelede die knie voor Uber gebuig en gevou het, het een van die bittereinders ’n taxi oorgeneem en homself as my persoonlike bestuurder aangestel.

Maar nog lank voor ek saam met Achmat die pad vorentoe aangedurf het, het ek die heerlikste avonture beleef saam met mense wat elke dag dinge gesien en ervaar het – van Paul McCartney aanry tot by sy seiljag in die Kaapse hawe, tot met skietwonde in ’n hospitaalbed opeindig.

Hulle het die geheime naglewe van bekendes en beroemdes geken. En wanneer die bendeleiers mekaar aanvat, het hulle, onskuldige bystanders, midde-in die spervuur beland. Ek het gruverhale gehoor van een bendeleier en sy trawante en van hoe ’n ander bendeleier vanuit sy rolstoel ’n skrikbewind gevoer het.

Vir my was dit ’n onuitputlike bron van stories, want met my, het hulle geweet, kon hulle gesels. Wanneer ’n jong, nuwe bestuurder by die maatskappy begin werk het, het die oues hom eers onder hande geneem en vertel hoe hy teenoor my moet optree.

Die bestuurders het geduldig sit en wag terwyl ek inkopies doen en eers weer die meter aangeskakel wanneer ek weer by die motor is. Hulle het met die grootste geduld die sakke vir my met die trap op na my voordeur gedra.

Wanneer ek ’n groot bestelling gekry het en tot in die middernagtelike ure moes bak, kon ek net bel en een van die bestuurders vra om vir my te gaan eiers koop wanneer dié opgeraak het.

Hulle het saam met my getreur wanneer ek ’n lieflingkat vir oulaas by die veearts moes groet, geduldig gesit en wag wanneer ek tydens besoekure langs my ma se hospitaalbed gesit het. En wanneer ek in die aand ’n funksie moes bywoon, het hulle laatnag uit hul pad gegaan om seker te maak ek kom veilig by die huis.

Ivan was die man wat my gehelp het om Saterdae my kratte vol gebak by die mark te kry en my weer doodmoeg, ná ’n lang dag, by die huis kom aflaai het. Hy het met die grootste geduld die vragte trappe op en trappe af gedra, selfs help malvalekkers sny wanneer die tyd my ingehaal het.

Van die wonderlikste, snaaksste stories kom ook uit my dae saam met hierdie drywers, soos hulle hulself genoem het ...

Ek het nog by Huisgenoot gewerk en dit was een van daardie saktye wat tot laataand aangehou het. Dit was Desember, feestyd, maar van al die vrolikheid het ek min gesien toe ek doodmoeg op die agterste sitplek van die taxi neersak. Dit was ’n nuwe bestuurder, een wat ek nie geken het nie, en ek was onmiddellik op my hoede.

Toe ons in Buitengracht, op pad huis toe, by ’n verkeerslig stop, het ’n kombi vol baie vrolike jong manne langs ons gestop. Een het by die venster uitgehang en vir my geskree: “Wat is jou prys?” In daardie dae en in sy eng ou wêreldjie was dit net vroue van die nag wat in taxi’s gery het.

Die bestuurder, ’n Xhosa-man, het eers probeer vorentoe ry om my weg van die jillende kombi te kry. Toe verander hy skielik van plan en ry terug, draai sy venster oop en sê in perfekte Afrikaans: “Meneer, hierdie vrou kom nou van die werk af. Jy behoort jou te skaam!” Hy draai toe weer sy venster toe, ry vorentoe en met dié sê hy heftig: “F*kken Transvalers!”, so half asof hy my om verskoning vir hulle gedrag wil vra.

’n Ander keer het ’n nuwe bestuurder, ’n skaam jong outjie, my na die Radisson onder by die Waterfront geneem. Ek het ’n heerlike uur van bederf by die spa in die vooruitsig gehad en het sommer ’n sweetpak aangehad sodat ek net vinnig by die sydeur kon inglip en sommer agterna weer reguit huis toe kon gaan. Ek verduidelik toe vir die bestuurder dat ek net ’n uur daar sou wees. Hy kon óf wag óf my weer kom haal.

Toe ek na ’n heerlike uur van watermassering by die motor kom, kyk hy my met so ’n effense glimlag aan en sê: “Sjoe, maar jy lyk moeg!” Ek voel so effens afgehaal, veral ná die behandeling wat my sak geruk het. So ’n entjie verder sê hy vir my ek moet tog my visitekaartjie vir hom gee, want hy kry dikwels passasiers wat van my dienste sal kan gebruik maak. Toe eers besef ek die arme mannetjie het gedink ek is hotel toe om ’n kliënt te “diens” en ek lag uit my maag uit – selfs nog beter terapie as die uur by die spa!

Ek het hom ’n paar maande later weer gesien toe hy my by die werk kom optel. Ek het hom eers nie herken nie, maar toe ek sien hoe die arme man sit en bloos, besef ek wie dit is. Toe lag ek eers.

........

Maar dis veral vir Dwayne, een van die ouer bestuurders, wat ek nooit sal vergeet nie. Dis by hom wat ek van my kosbaarste resepte gekry het – sonder pretensie, regte hartskos uit die Kaap.

..........

Maar dis veral vir Dwayne, een van die ouer bestuurders, wat ek nooit sal vergeet nie. Dis by hom wat ek van my kosbaarste resepte gekry het – sonder pretensie, regte hartskos uit die Kaap.

Hy het eenkeer vir my en my ma agter in die taxi hoor gesels oor die kerrie wat ek wil kook. Maak ek myne met “ertappeltjies”? vra hy toe. So met die gesels vind ek toe uit hy was jare lank die kok aan boord van die boot wat tussen Mosselbaai se hawe en een van die oliebore gevaar het. Hy belowe toe vir my hy sal sy eie, handgeskrewe resepte vir my bring. En hy het.

Taximan Dwayne se gheema curry

Genoeg vir 4

1 eetlepel sonneblomolie
2 groot uie, baie dun gesny
5 kardemomsade
5 heel naeltjies
4 kaneelstokkies
2 tamaties, gekap
2 teelepels sout
4 knoffeltoontjies
1 x 3 cm-stuk vars gemmer, geskil en fyngekap
1 kg beesvleisblokkies
1 teelepel borrie
2 teelepels blaarmasala (leaf masala)
1 teelepel fyn koljander
1 teelepel komynsaad
3 groot aartappels, geskil en in blokkies gesny
½ teelepel suiker
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit die olie in ’n swaarboomkastrol en braai die uie saam met die kardemomsade, naeltjies en kaneel totdat die uie glad en deurskynend is. Voeg die tamaties en sout by. Meng die knoffel en gemmer saam in ’n stamper en vysel en voeg by die mengsel in die pot. Laat vir 15 minute prut. Voeg die vleis en die borrie, blaarmasala, koljander en komynsaad by en laat vir 15 minute prut. As die mengsel te droog is, voeg ’n bietjie water by. Voeg die aartappels en suiker by en laat prut totdat die aartappels sag en gaar is – vir ongeveer nog 15 minute. Geur met sout en varsgemaalde peper na smaak.

WENK: Gaan met oop oë en ore deur die lewe. Jy ontdek die kosbaarste dinge waar jy dit die minste verwag.

 

The post Driving Miss Daisy ... reguit kospotte toe appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 173


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>