Min dinge laat my gril soos waatlemoenskil. Maar as die lewe die soete kroon van jou weerhou en jou suur skille gee, maak jy piekels daarvan ...
Kleintyd het ons in die waatlemoenparadys gewoon. Ek het nêrens nog soeter en rooier teëgekom as die waatlemoene daar uit Oudtshoorn se wêreld nie. Jy proe eintlik die Karooson in elke skyf.
Ons het net ’n entjie buite die dorp op Volmoed gewoon. My pa was skoolhoof daar. Dit was ’n regte plaasgemeenskap en my pa het gereeld huis toe gekom met waatlemoene wat hy by die boere present gekry het.
Ek kon my staan en verkyk aan hoe my pa waatlemoen slag. Hy het die skywe van die buitekant af gemerk en nie heeltemal deurgesny nie, en wanneer hy die waatlemoen dan oopbreek, het die sappige kroon op die skouers van die onderste skywe gehurk. As jy gelukkig was, het jy ’n stukkie kroon gekry, maar dit was eintlik vir die grootmense bedoel.
Ons kinders het elk ’n skyf gekry. Kraakrooi met die swart pitte ingeryg, en aan die onderkant daardie dik lagie wit “spek” en gevlekte groen. Die pitte was niks – jy kon kies om te sluk of te spoeg. Maar as jy darem nog so lustig eet en jy byt in daardie onwrikbare wit ...
Dis ook nie die enigste rede waarom ek die daardie skil so gehaat het nie. Ná die lekkerte van die soet rooi moes jy vinnig koes en hakskene wys wanneer ’n onnutsige broer skil in die hand glim in die oog kry. Waatlemoenfeeste by basaars, skoolpieknieks en kinderpartytjies het ook niks goeds voorspel nie. Jy het skaars klaar geëet of jy word met die taai skil gesmeer.
Toe ek verstand gekry en geleer het om ’n mes te hanteer, het ek my skyf op ’n bord begin eet. Ek het eers die rooi versigtig uitgesny en seker gemaak elke krieseltjie wit bly in die skil agter – waar dit hoort. En ná ete het ek ’n oorlas van myself gemaak soos ek in die grootmense se geselskap rondgehang het – net om die taai van daardie skil op my vel vry te spring.
Natuurlik het ons almal makataankonfyt geken en geweet dit word van die skille van die wilde waatlemoen gekook. Van dié waatlemoen kon jy net die skil eet, ook net gekook en gekonfyt.
Aan dié konfyt het ek nooit my mond gesit nie. Nie oor dit skil is nie. Nee, toe ek nog op laerskool was, het die tannies van die gemeenskap waatlemoenkonfyt in die skool se kombuis kom kook – alles om die skoolfonds so ’n bietjie aan te vul. Die kombuis was in dieselfde gang as ons klaskamer en jy kon niks doen om van daardie nare soet reuk af weg te kom nie.
Verlede jaar, aan die einde van die waatlemoenseisoen, was grendeltyd op ons. Niemand het kon dink dat ons met die volgende oesjaar steeds in die kloue van die virus sou wees nie. En dat alles soveel kan verander nie ...
Ek kyk met nuwe oë na soveel dinge. Aan die begin van elke dag gryp ek na iets nuuts, iets anders, wat my kan help ontsnap uit ’n wêreld waar jy elke dag afskeid neem en deel in die hartseer en nood van vriende, kennisse en vreemdelinge.
Dis hoe die ding met waatlemoenskille ’n nuwe wending geneem het. Ek het so ’n bietjie begin oplees, eers uit nuuskierigheid en toe met ’n gedrewenheid wat ek aan niks anders as hierdie virusvoosheid kan toeskryf nie.
Ná vele probeerslae is hierdie resep vir waatlemoenpiekels toe gebore. Appelasyn, bruinsuiker, speserye en baie geduld. En as jy gedink het die soet reuk met die kook van makataankonfyt is erg, het jy nog nie piekels in asyn gemaak nie!
Maar dis alles die moeite werd. Hierdie waatlemoenskilpiekels is heerlik saam met enige vleisgereg of in ’n slaai en absoluut ongelooflik op jou kaasbord.
Karen se waatlemoenskilpiekels
Lewer 4–6 flesse, afhangende van die grootte
die skil van ’n groterige waatlemoen
½ koppie sout
1,5 liter appelasyn
3¾ koppies bruinsuiker
3 heel kaneelstokkies
18 kruienaeltjies
18 wonderpeperkorrels
Gebruik ’n groenteskiller en verwyder die groen gedeelte van die skil, ook die bietjie rooi wat nog aan die wit bly vaskleef. Sny die skoongemaakte wit in blokkies. Meng die sout met 1,5 liter water en giet in ’n glasbak. Plaas die blokkies daarin, bedek die bak en laat staan in die yskas vir 3 dae. Spoel die blokkies af onder koue lopende water en dreineer goed. Giet die asyn in ’n groot kastrol van vlekvrye staal. Voeg 3 liter water, die bruinsuiker en die speserye by en meng goed. Bring die mengsel tot kookpunt en voeg die waatlemoenskilblokkies by. Laat dit oor matige hitte prut vir 2–3 uur of totdat die blokkies deurgekook en effens deurskynend is. As die vloeistof te min raak, kan jy nog ’n bietjie water byvoeg. Skep die blokkies in gesteriliseerde flesse en vul met die oorblywende vloeistof en speserye. Sny stukkies waspapier om soos ’n masker oor die bek van die flesse te sit voordat jy die deksels opskroef. Bêre op ’n koel en donker plek.
Wenk
Dis baie maklik om flessies te steriliseer. Was die flessies en hul deksels in warm seepwater, spoel goed af met warm water en plaas op hul sye in ’n oondpan wat met ’n skoon vadoek gevoer is. Plaas in ’n voorverhitte oond van 120 ºC vir 20 minute. Die metaaldeksels kan jy steriliseer deur dit net voor gebruik in ’n bakkie met kookwater te laat staan. Sien, dis glad nie so ’n ingewikkelde storie nie!
Foto’s: Izak de Vries
Lees ook:
The post Waatlemoenskilpiekels appeared first on LitNet.