Quantcast
Channel: Kos en wyn - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 173

Piesangbrood

$
0
0

Foto: Unsplash.com

Verlede jaar was nie ’n goeie jaar vir die Karens of vir piesangbrood nie – die virus het albei ’n slegte naam gegee. (Van pynappels praat ek nie eens nie, maar dis ’n storie vir annerdag.)

Die Karen-storie kom al van ver af. Niemand weet egter eintlik waar dit begin het nie. Sommige meen dit was die komediant Dan Cook wat in 2005 al met dié soort vrou begin spot en haar ’n naam gegee het. Maar dit was eers verlede jaar dat die Karen-grappies vinniger as die virus versprei het. In die Withuis-binnekringe is daar selfs spottend na Donald Trump verwys as The Karen in Chief.

Ons arme Karens moet nou rekenskap gee vir die doen en late van ’n wit, middeljarige vrou met ’n skewe blonde haarstyl wat met ylbedekte rassisme en ’n hele lot ander vooroordele ’n groot geraas maak oor niks.

In die jare tussen 1950 en 1970 in Amerika was Karen onder die top tien name wat ouers vir hul babas gekies het. Na dié koronajaar se gespot met die Karens is dit net mense met sterk weerstand wat hierdie naam uit sy opgelegde kwarantyn sal gaan haal. Een van die geleerde mense wat hierdie verskynsel bestudeer, het so terloops opgemerk: "G’n regdenkende mens sal vandag sy kind Karen noem nie.”

Ek het my pa altyd gespot dat ek drie keer getrou het om seker te maak ek raak van die van Botha ontslae. My nooiensvan was nie baie gewild midde-in die hoogdrama van die politiek van daardie tyd nie.

Nooit het ek kon droom dat my naam jare later net so melaats sou word nie. Maar ek dink nie eens daaraan om my tweede naam te gebruik nie. Ek kon nog nooit vat kry aan Gertruida nie. En naamsverandering is beslis nie op my lysie nie. Ek het gewoond geraak aan Karen. Ons kom al ’n lang pad saam.

Ironies genoeg het ek my tweede naam gebruik toe ek ’n skuilnaam moes kies vir van die oorsese glansstories wat ek vir Huisgenoot geskryf het in die jare toe ek daar gewerk het. Ek het dit effens verkort na Gerda en die van gekies van ’n katastrofiese eerste huwelik. Gerda Nel, het ek gereken, is ’n naam wat by ’n regte skinderbek pas. Ek het lekker gelag toe ek ’n brief van ’n leser kry waarin sy my vertel hoe haat sy Gerda Nel se stories – sy moet by Karen Hart gaan leer skryf!

Met die aanslag teen die Karens het my hart uitgegaan na die ander slagoffer in hierdie virusverhaal – die arme, arme piesangbrood.

Foto: Unsplash.com

In die grendeltyd het baie mense agtergekom hoe lekker dit is om van jou stres in die kombuis ontslae te raak. Veral daardie eerste maand, toe al die kitskosplekke toegemaak is en almal by die huis moes bly en self kos maak.

Die vernuftige huiskokke wat reeds tuis in die kombuis was, het nuwe vaardighede aangeleer. Op sosiale media is gespog oor die suurdeegplantjie wat met soveel sorg gekoester word. (Baie het selfs hul plantjies name gegee.) En dan in volkleur die brode wat uitgerys en spoggerig uit die oond gehaal word. Kolwyntjies en grootkoeke het allerhande tydrowende tierlantyntjies bygekry.

Maar vir dié wat half onseker voor die stoof gaan staan en wonder het of die oond ’n baksel sal kan hanteer, was piesangbrood die maklikste uitweg. Dis vinnig en sonder fieterjasies en darem gewoonlik eetbaar.

Dis ook die eerbare ding om te doen wanneer die piesangs in die vrugtebak elke dag nog bruin vlekke bykry en jou stilweg verwyt oor hul doellose bestaan en vinnig naderende einde. En nou, met al die tyd wat jy by die huis deurbring, is daar geen manier wat jy daarvan kan ontsnap nie.

Met die koms van die nuwe jaar en die werklikheid van die tweede vlaag het die gespot ook begin. "Nou gaan ons weer piesangbrood bak!” Dis toe dat ek besluit: Aan die liederlike lot van my naam en naamgenote kan ek nie veel doen nie, maar ek kan darem probeer om die piesangbrood tot die kroonprinses van die teetafel te verhef.

Foto: Unsplash.com

Karen se piesangbrood

Lewer 8–10 klein broodjies (afhangende van die grootte van jou minipannetjies)

Vir die piesangbroodjies
115 g sagte botter
1 koppie suiker
1 teelepel vanielje
2 eiers
2 koppies koekmeel
1½ teelepels bakpoeier
½ teelepel koeksoda
1 teelepel sout
4 oorryp piesangs (hoe ryper die piesang, hoe beter die smaak), fyngemaak.

Vir die versiersel
½ koppie geroosterde okkerneute, grofweg gekap
8–10 heel okkerneute, genoeg om een op elke broodjie te sit (opsioneel)
200 g sagte botter
1 koppie versiersuiker
¼ koppie rou heuning
2 eetlepels melk.

Room die botter en suiker met ’n elektriese klitser tot lig en romerig. (Dit neem ’n geklits van ongeveer 4–5 minute). Voeg die vanielje by en klits goed. Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging. Sif die koekmeel, bakpoeier, koeksoda en sout saam en voeg om die beurt met die piesangs by. Eindig met die meelmengsel. Skep die deeg in gelyke hoeveelhede in gesmeerde minibroodpannetjies en bak vir 25–30 minute in ’n voorverhitte oond van 180º C. Haal die broodjies uit die oond, laat 10 minute in die pannetjies afkoel voordat jy dit versigtig op ’n draadrak uitkeer om heeltemal af te koel. Maak intussen die versiersel: Klits al die bestanddele saam totdat jy ’n lekker ligte, romerige mengsel het. Smeer die versiersel bo-op elke broodjie en sprinkel die okkerneute oor. Plaas ’n heel okkerneut op elke broodjie.

Bedien elke broodjie op ’n swierige bordjie saam met tee in die fynste porseleinkoppies. En onthou, ’n piesangbrood is nie net ’n piesangbrood nie en ons Karens is nie almal so nie.

 

The post Piesangbrood appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 173


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>