Feesgangers kan op Saterdag 14 Maart saam met kenners van die Veldvleisvereniging van Suid-Afrika (Grass Fed Association of South Africa – GFASA) “voedsel met integriteit” proe tydens die vyfde jaarlikse Agri-Expo Landbouproereeks by die Toyota US Woordfees op Stellenbosch. Remona Voges het met Pieter Prinsloo van die Veldvleisvereniging oor dié lekker geleentheid gesels.
Pieter, Ontdek voedsel met integriteit bestaan uit ’n paneelbespreking en ’n proesessie. Waarop fokus die bespreking hoofsaaklik?
Besprekingspunte sluit in:
- Hoe gesonder die voedsel wat ons eet, hoe gesonder sal ons wees – nie net fisiologies nie, maar ook emosioneel en in terme van ’n verskeidenheid van verhoudinge, aangesien ‘n gesonde liggaam inderdaad ‘n gesonde mens huisves.
- Die integriteit van die voedsel wat ons eet, en die integriteit van die voedselwaardeketting, word deur verskeie faktore beïnvloed, soos hoe die plaas bestuur word in terme van sy water, die grond, die arbeiders, die diere, die biodiversiteit – en dan die kommunikasie daaroor na die eindverbruiker.
- Die verbruiker is nie losstaande van die produsent nie – die verbruiker en produsent is aanmekaargestik deur die voedselketting – hoe skoner en meer eerbaar die ketting, en hoe meer kennis daar is oor die ketting, hoe hoër die mate van integriteit.
- Dit verg egter ’n gemeenskap om produsente te ondersteun en hande te vat met produsente om wel sodanige voedsel met integriteit te produseer.
- Hoe korter die waardeketting, hoe beter ook vir alle partye en hoe nader kan die verbruiker aan die produsent kom.
Kan jy ’n bietjie meer oor die betrokke paneellede vertel asseblief?
Sjef en kosskrywer Errieda du Toit van Huiskok- en Kokkedoor-faam
Errieda is ’n koskultuurkenner, skrywer van tien kookboeke en inhoudsvervaardiger vir die Kokkedoor-, Koekedoor- en Kokkedoortjie-televisiereekse. Haar nuutste boek, Share, (Afrikaanse titel Saam) is aangewys as die Gourmand World Cookbook Awards se Suid-Afrikaanse wenner in die kategorie vir koskultuur. Dit handel oor ’n eeu van gemeenskapskookboeke en die kultuur van gedeelde resepte. Sy skryf gereeld vir tydskrifte soos Sarie en het ’n kosrubriek in Die Burger, Versnit. Haar kosblog Huiskok.com word wyd ondersteun. Haar radiostem was 16 jaar op RSG op die program Huiskok Glanskok te hoor.
Boervrou en deli-eienaar Marelise van Niekerk
Marlise het kwalifikasies in voedseltegnologie, voeding en tersiêre onderwys. Sy was vir jare ’n dosent in gasvryheidstudies, asook ‘n konsultant. Sy is in 2012 getroud met ’n boer van Bedford in die Oos-Kaap en het in 2015 haar eie deli begin. Haar passie is om uitnemende kos met liefde te bedien. Sy glo “kos is eerlik” en “voedsel word gegee deur die een wat dit voorberei, en kos bring vreugde vir diegene wat dit saam geniet”!
Voorsitter van die Veldvleisvereniging van Suid-Afrika (GFASA), Adriaan Cloete
Adriaan is ’n stigterslid van GFASA, ’n holis van nature en deeltydse beesboer uit die Vryburg-omgewing, met groot belangstelling vir vernuwing en ’n passie vir dit wat toekomsgerig, volhoubaar en regverdig is. Hy het ’n liefde vir vleis en bees, vernaam inheemse rasse wat gehard en aangepas is by hul natuurlike habitat. Adriaan is ook ’n diplomatiese gesprekvoerder en spreker. Sy betrokkenheid by die Ultimate Beef Challenge en die Slow-Meat Events is voorbeelde van sy toewyding, waar aksies geloods is om die Suid-Afrikaanse Rooivleisbedryf te bevorder.
James Blignaut van Integra Trust / Voedsel met Integriteit
James is ’n natuurlikehulpbron- en omgewingsekonoom verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Skool vir Publieke Leierskap, SAEON, ASSET Research, Integra Trust en Restore Africa Fund Manager. James fokus op die ekonomie van restourasie en die herstel van gedegradeerde gebiede met die klem daarop om beide die grond en die mens te genees. James skryf ook graag (https://www.dailymaverick.co.za/author/james-blignaut) en is die outeur van http://restory.co.za.
Watter soort kos word geklassifiseer as “voedsel met integriteit”? Hoekom is dit ’n relevante onderwerp in ’n hedendaagse konteks?
Voedsel met integriteit is nie gekoppel aan ’n spesifieke landboubedryfstak nie, maar aan die manier waarop dit verbou en voorberei word met die nodige nasporing van die produksiemetode en die verwerkingsproses van die voedsel in die waardeketting.
Daar is dus drie aspekte van belang:
- Die integriteit ten opsigte van die bestuur van die menslike en natuurlike hulpbronne tydens die produksieproses.
- Die integriteit ten opsigte van die bestuur van die verwerkingsproses van die primêre produkte tot finale produkte.
- Die kommunikasie en naspeurbaarheid van die produksie- en verwerkingsprosesse.
Met fopnuus die onderwerp van die dag tesame met ’n verskeidenheid kosgebaseerde siektes, is dit belangrik dat primêre produsente en verbruikers saamstaan om heilsame voedsel op die tafel te plaas, en dit met oorleg en met die nodige onderliggende inligtingsbasis.
Beskawings was van die begin van tyd onlosmaaklik verbind aan primêre landbou. Primêre landbou vorm die bakermat van beskawings oor alle eeue heen. Dit is maar gedurende die laaste 50 jaar, vir die eerste keer in die geskiedenis van die mensdom, dat daar ‘n ontkoppeling plaasgevind het tussen die verrysing van ’n nuwe beskawing en primêre landbou. Hierdie ontkoppeling maak dit moontlik vir verskeie wanvoorstellings van dit wat werklik heilsame voedsel is, en dus moet ons die wortels van ons voedselproduksie herbesoek.
Waarna kan mense uitsien om by dié geleentheid te proe en te ervaar?
- ’n Geurige vleishappie keurig voorberei.
- ’n Blik op volhoubare boerderypraktyke.
- ’n Gesprek oor die naspeurbaarheid van die oorsprong van dit wat ons eet, met die klem op die soeke na gesonde voedsel, met integriteit voorberei, geproduseer en voorgesit.
- Humor wat saak maak.
- Ons braai ons vleis op die plaas met akasiahout, wat gewoon bydra tot die besondere geur wat verkry word deur dit so voor te berei op warm kole. ’n Paar sakke hout gaan saam van die Oos-Kaap af om die ervaring met die gaste te deel.
Marietha Prinsloo is verantwoordelik vir die kos wat by die geleentheid bedien word. Kan jy ’n bietjie meer oor haar vertel asseblief?
Marietha is ’n improvisasiekok en kook uit die hart met dit wat tot haar beskikking is. Die lekkerste bord kos is ’n bord wat met liefde en styl voorberei is. Gesonde leefstyl, aardsheid, natuurlikgeproduseerde vleise en hormoonvrye groentes uit haar plaastuin en die gebruik van natuurlike kruie en bymiddels is eerste prys. Sy leef, eet en slaap grasgevoerde vleis ... dit is haar beroep en haar passie.
Truida-Mart Blignaut gaan ook help met die voorbereiding. Truida-Mart was tot einde 2019 ’n tuisskoolma en taaltutor vir beide tuisskolers en skoliere. Vanjaar, met albei kinders op universiteit, is 'n jaar van herbesinning. Die voorbereiding van 'n maaltyd is harde werk, maar hoogs bevredigend. Dit lê die basis vir die samesyn van die mense wat vir haar kosbaar is. Die bord, leeggeskraap en uitgelek, verteenwoordig soveel meer as net ’n vol maag: die lag, die gesels, die kuier, die stry, die interaksie en die saamleer . Dit verteenwoordig alles van haar huis. “Wanneer ek die maaltyd voorberei, weef ek my gesinslede saam – heerlik!”
Die Agri-Expo Landbouproereeks vervat vanjaar agt pas-en-proe-sessies met bekende kos-en-wyn-persoonlikhede wat hul kennis deel terwyl gaste van vonkelwyn tot skaapvleis en kaas geniet.
Johan Ehlers, die uitvoerende hoofbeampte, sê dat Agri-Expo die beeld van landbou op opwindende maniere bevorder. “Hierdie inisiatief by die Toyota US Woordfees, in samewerking met ons vennote die Chenin Blanc Assosiasie en Standard Bank, Konsortium Merino en Veritas, JC le Roux, Fairview, Cape Vintners Classification, HORTGRO, die Veldvleisvereniging van SA (GFASA) en Spier Wines, skep ’n toeganklike en vermaaklike platform om landbou aan 'n wyer gehoor bekend te stel. Landbou is ’n vertoonvenster van kreatiewe kunsvorme, daarom is dit gepas dat Agri-Expo ander kunsvorme en landbou bymekaar uitbring tydens die Toyota US Woordfees."
Al die proesessies vind by Die Khaya in Ryneveldstraat, Stellenbosch plaas. Kaartjies wissel tussen R130 en R180. Slegs 70 kaartjies per proesessie is by Computicket beskikbaar. Besoek www.woordfees.co.za en www.agriexpo.co.za vir meer inligting.
The post Proe kos met integriteit by Toyota US Woordfees 2020 appeared first on LitNet.