Ek het nog altyd gewonder oor daai appeltjie – ek sweer dis met die vlesige oordaad van ’n mango wat Eva vir Adam verlei het. ’n Appel doen dit net eenvoudig nie vir my nie. ’n Appel is byna engelagtig in sy onskuld. Dis die vrug waaraan jy mag knibbel as jy op ’n dieet is. En dis heel bo-aan die lysie van steeds krimpende genietinge wat jou dokter jou nog toelaat. ’n Sondige klein bliksem? Nie sommer nie …
Maar ’n mango …natuurlik het ’n mango ook ’n lang lys van gesondheidsvoordele, meer as waarvan jy ooit sal kan droom. Maar die ou vruggie is soos die gewildste meisie op skool – daardie enetjie wat vroeër as al die ander sagte rondings gewys het en deur haar minderbevoorregte susters van allerhande losbandigheid verdink – en beskinder – word. Haar goeie hoedanighede word lankal nie meer raakgesien nie.
In die sappige vlees en soet smaak van ’n mango proe jy die oordaad van hoogsomer. En dis ’n ou vruggie wat jy ook nie sommer so in ordentlike geselskap kan eet nie. Die beste manier om ’n mango te eet, sê hulle, is om die badkamerdeur te sluit, jou klere uit te trek en in die bad te klim. Dan kan jy sommer agterna die taai sopperigheid van jou lyf afwas. En van die lastige vesels tussen jou tande ontslae raak.
My eerste mango was by die see, by die ou Bakke van Mosselbaai, in die tyd toe dit nog ’n vakansieplek met houthuisies en hart was. (Deesdae word dit De Bakke genoem en die houthuisies is platgeslaan om plek te maak vir chalets). Ek onthou ek het van die strand af gekom, met die soutwater en sand nog aan my lyf, en net daar buite op die sementblad voor die agterdeur die sagte soet om die pit afgeëet, agterna nog met tande deur die vesels gehark vir die laaste bietjie vlees. Destyds het die mango’s nog baie meer vesel gehad. Ons het agterna die pit met sy kaalgestroopte vesels in die son laat droog en ’n gesiggie daarop geteken.
Vandag se mango’s het meer vlees en minder vesel, fyn geteel vir ekstra genot. Ek begin al hier van November af uitsien na daardie eerste mango, maar my groenteman hou hom doof. Die mango’s wat nou op die mark is, maan hy, is nog sonder smaak. Dis eers amper Kerstyd wanneer hy daardie eerste vrugte op my tafel kom neersit – vol van lyf en stroopsoet. Ek het al in my ongeduld skelm in die winkel gaan koop, net om Nazeem gelyk te gee. Vergeet van die voorvruggies – jy soek ’n mango met hoogsomer in sy lyf.
Hier oor die feestyd is mango’s op hul beste. Net reg vir die Kersmaal. Vanjaar het ons by my suster se huis saamgekom. My broer het vir die hoender gesorg – geurig met ’n lekker speseryerige geelrys daarby. My sussie het Ottolenghi ontdek en twee bygeregte met Midde-Oosterse geure opgetower. Ek moes vir die poeding sorg en dis ’n groot kopseer met almal se voor- en afkeure en kosallergieë. Toe maak ek maar ’n yslike groot vrugtebord met lietsjies, volryp appelkose, grenadella, wit en rooi druiwe, bakkies met Lindt se sjokoladebedekte bloubessie- en framboosbokdrolletjies en kersies wat met die eerste hap in jou mond ontplof. En reg in die middel van die bord – ’n glasbak met mango-en-perskeslaai, liggies gegeur met gerasperde lemmetjieskil en ’n bietjie lemmetjiesap.
Op my kosreis het ek mango in verskillende gedaantes leer ken. ’n Lekker klapperpavlova met vars mango en room, mangokaaskoek, ’n lekker mango-en-lemmetjiejellie, garnaal-en-mangokelkies . . . noem maar op. Ek het ook geleer dat mango’s kan heelmaak en genees. Wanneer die somerson hier op die berg neerbrand, sukkel my tagtigjarige ma om die hitte te hanteer. Dan verpleeg ek met gebraaide uie met komyn, my apteker se pienk-koeldrank-konkoksie en, die heel beste van alles, vars skywe mango – die heel beste medisyne.
Maar dis hier in die Moslem-hartland, waar ek nou al die afgelope agt jaar woon, waar ek mango op sy beste leer ken het. Hier wag hulle nie op die mango’s om ryp te word nie. Hier van begin November af is daar al sakke met klein, groen mango’s in die groentewinkels. Dis vir die mangoblatjang wat van die jong groenetjies gekook word. Mango-atjar. En wanneer die mango’s begin ryp word, ’n lekker hoenderkerrie met vars mango daarin of ’n lekker mangosambal as kondiment. Mango-lassi vir die feestafels en die nie-alkoholiese dors.
En dan is daar die allerlekkerste slaai wat my buurvrou se Moslem-vriendin haar leer maak het. Dié het ek so effe aangepas en my eie gemaak, spesiaal vir my feestafel om die nuwe jaar te begroet. En saam met die mango’s op my tafel, het ek net die één nuwejaarsvoorneme – om te leer om myself te vergewe. Nie net vir al die mango’s wat ek nog gaan eet nie, maar vir elke klein dingetjie waaroor ek myself nog al die jare kasty. Want ek glo as ’n mens eers geleer het om jouself te vergewe, is dit soveel makliker om meer verdraagsaam teenoor ander te wees.
Karen se mangoslaai
Genoeg vir 4 – 6
Vir die slaai
Slaaiblare van jou keuse
2 groot mango’s, geskil en in skywe gesny
½ van elk: rooi, geel en groen soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in dun repe gesny
1 klein rooiui, in dun ringetjies gesny
’n handvol vars gekapte koljanderblare
Vir die slaaisous
3 eetlepels olyfolie
1 eetlepel wit balsemiekasyn
1 teelepel heuning
sout en varsgemaalde peper na smaak
Rangskik die slaaiblare op ’n mooi plat bord en pak ’n laag mangoskywe, gevolg deur ’n laag soetrissie van gemengde kleure. Pak die uieringe bo-op en sprinkel die koljanderblare oor. Meng al die bestanddele vir die slaaisous en giet bo-oor.
Lees ook
The post Mango met hoogsomer in die lyf appeared first on LitNet.