Quantcast
Channel: Kos en wyn - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 173

Tuin van Digters 2019 een vir die boeke

$
0
0

Die jaarlikse Tuin van Digtersfees het op 13 en 14 September in die Breytenbachsentrum in Wellington plaasgevind. Vanjaar se tema, "wees (aan)dadig", is 'n skerpskepping van Breyten Breytenbach, wat by vanjaar se Tuin gehuldig is.

Die maer man met die groen trui, Breyten Breytenbach (Foto: Willem S van der Merwe)

Die fees het Vrydagaand met 'n stampvol gehoor en 'n baie spesiale program afgeskop. Danie du Toit, voorsanger en skrywer van Spoegwolf, het die gehoor met sy stem, stories en lirieke betower, waarna Andries Bezuidenhout, Yves T’Sjoen, Kerneels Breytenbach en Ampie Coetzee elkeen aan die lang man met die groen trui hulde gebring het.

Spoegwolf se Danie du Toit (Foto: Willem S van der Merwe)

Breytenbach het almal verras met 'n onbeplande, aangrypende voorlesing uit sy jongste versamelbundel Rooiborsduif. Die verse in dié bundel is chronologies gerangskik volgens sy lewensgang – van sy jongmenslewe in Kaapstad, Parys, ballingskap weens sy huwelik en tronkstraf tot sy pendelaarslewe wat alles uiteindelik na die liefde teruglei.

Pieter Hugo se bundel Alchemie van my muse is onlangs gepubliseer (Foto: Willem S van der Merwe)

Breytenbach se verrassingsvoorlesing is gevolg deur 'n optrede deur Laurinda Hofmeyr, wat saam met Schalk Joubert en Kevin Gibson die gehoor op 'n musikale reis van Breyten se bekendste werk geneem het.

Gert Vlok Nel en Tanja Erasmus (Foto: Willem S van der Merwe)

Die aand is afgesluit met 'n optrede deur die veelsydige Willem S van der Merwe, die begaafde Craig Vee en die digter Daniel Hugo. Van der Merwe het verse uit sy tweede digbundel, Nuwe vrese, op treffende en musikale wyse vertolk – die perfekte afsluiting vir 'n fantastiese openingsaand.

Willem S van der Merwe in aksie (Foto: Willem S van der Merwe)

Saterdag het 'n propvol en opwindende program gebied. Hierdie feesganger het ná die vorige aand se laataand-kuier eers rondom middagete by die Breytenbachsentrum opgedaag, dié keer met 'n tweede asem. Die middag is ingelei met Woorde en Akkoorde wat onder meer bestaan uit Jolyn Phillips, Frazer en Deniel Barry en Churchil Naudé. Hul kreatiewe vermenging van dromerige melodieë en beeldryke woordkuns het die ondertoon geskep waarteen die res van die middag sou afspeel.

Christo van der Westhuizen, Daniel Hugo and Danie Marais (Foto: Willem S van der Merwe)

Die amptelike bekendstelling van Ons Klyntjie 2019 het 'n hele klomp opwindende nuwe stemme na die voorgrond gebring. André van der Hoven se Franse gedig, gevolg deur 'n voorlesing van dieselfde gedig in Afrikaans, was uiters treffend en Erns Grundling het die gehoor aan die giggel gehad met sy skreeusnaakse gedig waarin hy die spot met Afrikaanse popmusiek dryf.

Kabous Meiring en Ampie Coetzee op die verhoog (Foto: Willem S van der Merwe)

Die grootste hoogtepunt van die fees was beslis Breyten Breytenbach se voorlesing van sy gedigte op maat van Schalk Joubert se baskitaarnote. Dit was 'n eiesoortige, byna magiese belewenis – iets wat ek vir altyd sal onthou en koester. 

Schalk Joubert en Breyten Breytenbach in aksie (Foto: Willem S van der Merwe)

Die aand is oudergewoonte deur Riku Lätti en vriende afgesluit, wie se optrede met 'n groot gejuig en gedans van die feesgangers gepaard gegaan het.

Riku Lätti (Foto: Willem S van der Merwe)

Wat my van vanjaar se fees opgeval het, is die aansienlik groter aantal musiekoptredes en gedigte-toonsettings teenoor vorige jare – 'n baie slim manier om 'n groter verskeidenheid mense na dié besonderse fees te lok. Wat die fees spesiaal maak, is dat dit 'n ruimte skep waar oud en jonk van verskillende lewenspaaie bymekaar kan kom, kuier en connect, met die digkuns as gemeenskaplike belangstelling.

Elsabé Daneel het as gesprekleier opgetree. Langs haar is Linda Yee van der Merwe (Foto: Willem S van der Merwe)

 Die organiseerder van die fees, Francois Lötter, kan homself  gerus 'n klop op die skouer gee. Van die vyf feeste wat ek die laaste jare bygewoon het, was hierdie een sonder twyfel van die heel bestes. Ek sien daarna uit om te sien wat volgende jaar se program inhou.

The post Tuin van Digters 2019 een vir die boeke appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 173


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>