Quantcast
Channel: Kos en wyn - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 174

Resensie: Winterkos in Provence deur Marita van der Vyver

$
0
0

Titel: Winterkos in Provence
Outeur: Marita van der Vyver
Uitgewer: NB-uitgewers

Koop Winterkos in Provence by Kalahari.com

Daar kom gereeld bekende Stellenbosch-gesigte in my winkel in. Hulle stap verby en kom maak ’n vinnige geselsie terwyl hulle die pragtige ou gebou met verwondering aankyk. Verlede week loer ’n aantreklike wynboer met silwer hare in. Hy kyk eers met groot belangstelling na die mure en plafon en hoe mooi dit gerestoureer is. Toe skuif sy fokus na die kombuistoebehore. “Ek moet my vrou hierheen bring,” sê hy. “Sy’s die tipe wat nie saans Shades of Gray lees nie, sy lees kookboeke en kostydskrifte.”

Ek het net geglimlag, want vir my is dit presies dieselfde. Ek lees resepteboeke soos ander mense storieboeke lees. Ek verslind ’n nuwe Donna Hay-tydskrif wat elke seisoen ingevoer word uit Australië. Ek kan ure se genot daaruit put, en weer en weer daarna terugkeer. Maar ek keer ook gereeld terug na my ouer resepteboeke. As ek hulle vir ’n ruk lank afgeskeep het, vind ek van voor af vreugde in die bekendheid van sommige foto’s en resepte, en ontdek ek altyd iets wat ek nooit voorheen raakgesien het nie.

As jy hou van kosboeke lees, in die ware sin van die woord, gaan jy mal wees oor Marita van der Vyver se Winterkos in Provence. Dis ’n romantiese boek met stories en staaltjies oor Marita en haar gesin se idilliese koslewe in Frankryk – hoe hulle eet, hoe hulle onthaal, wat hulle koop en hoe hulle saam kosherinneringe skep.

Marita is ’n veelsydige en gewilde skrywer. Van haar vorige titels sluit kinderboeke in, asook kortverhale en ’n hele rits romans. Die voorganger van Winterkos in Provence was Somerkos in Provence – ’n soortgelyke boek wat haar aanhangers opgeslurp het. Sy toor met Afrikaanse woorde, het ’n fyn humorsin en sê ’n ding soos dit is.

Die boek is saamgestel uit ongeveer 36 hoofstukke, elk met ’n lekkerlees intieme kosstorie en ’n resep of drie, foto’s uit Provence van haar familie en van mooi plekke, asook onopgesmukte kosfoto’s wat waarlik met jou praat. Waar die meeste resepteboeke bestaan uit klein paragrafies, stories (indien enige) en meestal resepte, plaas sy die fokus op die herinneringe, die eg Franse bestanddele, ’n bietjie kulinêre geskiedenis en ’n intieme kykie in haar daaglikse lewe in Frankryk. Haar man, Alain Claisse, drie groot seuns en tienerdogter speel ’n integrale rol in die boek met ’n goue garing van familie-samesyn daardeur geweef.

Marita woon reeds 15 jaar in Frankryk. Sy klink asof sy een geword het met die kultuur en leefstyl, asof sy moeiteloos soos ’n gerespekteerde Fransman kan kook en onthaal. Haar stories is boeiend en geloofwaardig, en haar kennis van bestanddele en kosgeskiedenis is verstommend (sy het haar navorsing deeglik gedoen). Selfs die metode-gedeelte van die resepte lees soos ’n storie, sonder nommers of punte, maar eerder geskryf in paragrawe soos jy met iemand sou gesels.

Winterkos in Provence dek ’n groot verskeidenheid klassieke Franse resepte met seisoenale winterbestanddele soos crêpes suzette (pannekoek in ’n alkoholiese lemoensous), canard à l’orange (eend met lemoen), tarte tatin (onderstebo appeltert), knoffelsop, foie gras in ’n sousie, romerige vark-rillettes, moules frites (gestoomde mossels in witwyn met dun aartappelskyfies en mayonnaise) en kwartel met droë vrugte. Sy gesels oor rojale roereiers (met dun skyfies vars truffels bo-oor gekerf), dekadente kaaskrokette met rooi konfyt (gemaak van eg-Franse camembert of brie) en clafoutis met pruimedante (’n gebakte poeding met ’n ligte tekstuur, bedien met geklopte room). Haar pragtige gebruik van Afrikaanse woorde speel helder af teen die skilderagtige Franse agtergrond, en dis amper asof jy van vooraf verlief kan raak op hoe mooi beskrywend ons taal is.

Winterkos in Provence is ’n boek wat jy moet lees in ’n stil en sonnige hoekie, sonder haas, waar jy jouself kan verloor in Marita se koswêreld. Jy gaan keer op keer na hierdie boek wil terugkeer, nie net vir die resepte en foto’s nie, maar grootliks vir die pragtige stories.

The post Resensie: Winterkos in Provence deur Marita van der Vyver appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 174

Trending Articles


Girasoles para colorear


Tagalog Quotes About Crush – Tagalog Love Quotes


OFW quotes : Pinoy Tagalog Quotes


Long Distance Relationship Tagalog Love Quotes


5 Tagalog Relationship Rules


Re:Mutton Pies (lleechef)