Het jy al ooit gewonder oor versekering, visums, begrotings, werksonderhoude en volwassenes se ander vreugdes, frustrasies en verantwoordelikhede? Het jy al gewens vir raad wat op Suid-Afrikaners gemik is, en nie op ’n jong volwassene in ’n ander land en ander konteks nie? LitNet wil jou help om die gaping tussen kindwees en volwassenheid te oorbrug deur namens jou vir mentors raad en praktiese wenke te vra oor verskeie kwessies. Soek jy raad oor iets spesifiek? Stuur jou versoek aan vranet@litnet.co.za.
Liné Enslin vra vir sjef Francois du Preez om ’n paar praktiese wenke te gee vir kosmaak en onthaal te midde van besige lewenstyle en belde wat letterlik en figuurlik al hoe stywer vasgemaak moet word.
Watter bestanddele behoort elke jong volwassene wat miskien vir die eerste keer hul eie kos moet voorberei, altyd in hul kombuiskas te hê?
Jy sal altyd pasta in my koskas vind, geblikte tamatie en natuurlik ’n ui. As jy hierdie drie bestanddele het, het jy ’n ete. Maak maar die sakkies sout, peper en sousies bymekaar wat mens by die wegneemete-plekke kry, want dit kan nuttig te pas inkom om jou pasta op te kikker.
Watter toebehore (soos ’n handklitser of broodplank) is noodsaaklik?
Soos met versekering, belê in ’n goeie mes. Dis altyd ’n goeie idee om vir een te skimp wanneer mense vra wat jy vir jou verjaarsdag wil hê. Onthou net, mens vat nooit ’n mes sonder om ’n ruildingetjie daarvoor te gee nie. Dis ’n ouvroustorie, maar ek het dit nog nie gebreek om uit te vind wat gebeur nie. Ek wil ook nie die kans waag nie.
Natuurlik is ’n menger ook nuttig, want jy kan eindelose tyd spaar, en ook baie geld op vermorsing.
Watter basiese tegnieke moet mens onder die knie hê om lekker kos voor te berei? Ek dink nou byvoorbeeld aan rys kook en ’n witsous maak.
’n Basiese tegniek is om te leer hoeveel van wat om mee te begin. ’n Pot vol rou rys in kookwater is nie genoeg vir twee mense nie, maar vir 20. Dis ook belangrik om te weet hoe om kos op ’n smaaklike wyse te kan rek om ’n klomp vriende op ’n minimale begroting te kan voer.
Tegnieke in die kosbedryf is ’n geweldig wye veld. Wanneer dit kom by souse soos witsous, is geduld van belang. Vir alles wat gewoonlik tyd en geduld verg, is daar ’n vinnige tegniek en oplossing, maar jy boet in met die smaak van jou gereg.
Enige tegniek word bemeester met liefde vir kos. As jy kos met liefde voorberei, gaan jy altyd jou gaste “wow”!
Die hoeveelheid skottelgoed wat na die kosmaakproses of onthaal van gaste oorbly, ontmoedig baie mense om self kos te maak. Die gevolg is dat mense al meer uiteet (wat op sigself finansiële implikasies het) of hul wend na maklike, maar ongesonde, kos. Het jy enige raad? Is papierborde die enigste uitweg?
Hier in die Kaap is water goud werd op die oomblik en het ons aangepas daarby. Ek het ’n wasbak met sterk warm water, skottelgoedseep en ’n kwartkoppie bleikmiddel altyd gereed wanneer ek begin kosmaak. Soos wat ek bakkies en eetgerei gebruik, spoel ek dit in die warm water af. Wanneer daar ’n ruskansie is, pak ek gou dit wat droog is, weg. Daar is niks so lekker soos wanneer almal klaar gekuier het vir die aand om in te spring en saam die skottelgoed te was nie. Daarna kan ons ’n lekker soetwyntjie geniet en kan ek my gaste bedank vir hulle “harde werk” met ’n heerlike koffie en sjokolade voor hulle vertrek.
Mense se lewenstyle raak al hoe besiger, en veral wanneer mense studeer of pas begin werk het, sukkel hulle om aan te pas by die lang ure en min vrye tyd. Tyd vir kosmaak word dus baie min. Is daar praktiese dinge wat mens kan doen om die voorbereidingstyd te verkort?
- Ek het altyd ’n muffinmengsel in my yskas wat vir 30 dae hou. Dit raak ’n oggendritueel: maak koffie, sit die oond aan, vul twee muffinholtes met my mengsel en druk neute, rosyne, muesli of vars vrugte in. Na my koffie is die oond gereed en wanneer ek klaar gestort het, is my muffins reg. Pannekoeke en pitabrode werk goed vir ’n vinnige vulsel, gerasperde kaas en ’n vinnige besoek onder die rooster.
- Haal jou vleis die vorige aand uit, laat dit ontdooi en vryf speserye die volgende oggend in. Dit marineer en maak die vleis lekker sag. Wanneer jy by die huis kom, bespaar dit klaar tyd en kan jy dit net gaarmaak.
- Aartappels kan jy voor die tyd skil en in koue water laat lê tot jy dit benodig die volgende dag of dieselfde dag. Moet dit nooit langer as twee dae in koue water hou nie.
- Sorg dat jou potte reeds op die stoofplate staan alvorens jy gaan begin kook.
- Sit altyd jou plaat op hoog en sodra dit wat in die pot is begin kook, draai jy die plaat na ’n laer temperatuur. Moenie begin kook op ’n lae temperatuur nie – dit gaan ’n ewigheid neem.
- Groot vleisstukke kan jy al die oggend in die oond sit teen 100°C en met foelie bedek. Wees net gewaarsku – jou maag gaan jou slukderm begin aanval van daardie lekker reuk wanneer jy die middag jou voordeur oopmaak.
As jy ’n streng begroting het, wat deesdae noodsaaklik is, watter besparingstegnieke kan jy toepas om gesonde en heilsame maaltye te geniet sonder om bankrot te raak en die res van die maand two-minute noodles te eet?
- Kyk uit vir spesiale aanbiedinge by groentewinkels. Onthou egter dat dit wat op spesiale aanbieding is, nie ’n lang raklewe het nie – jy sal dit so gou moontlik moet verwerk. Daarvoor het jy ook vriesspasie nodig.
- Vervang botter met harde margarien vir bakdoeleindes. Vries al jou afvalskille in een sak tot jy genoeg het en kook dan ’n lekker aftreksel daarmee wat jy vir allerhande geregte kan gebruik. Jy kan alle groente-afval vries, behalwe uie en aartappels.
- Moenie ou brood weggooi nie. Rooster dit en maak krummels. Jy kan enige maalvleisdis daarmee rek sonder om die smaak te beïnvloed.
- Hou bottels met skroefdeksels in jou kas. Jy kan alles wat oorbly, bottel en in die yskas bêre vir later.
- Die belangrikste is om seker te maak dat jy net koop wat jy gaan nodig hê. Maak vir gaste individuele slaaitjies in nageregbakkies om vermorsing te voorkom. Maak jou vleisporsies kleiner en jou verskeidenheid groente meer.
- Heerlike voedsame sop is goedkoop en jy kan ’n paar variëteite met een kooksel maak.
The post VraNet: Nuttige wenke vir kosmaak appeared first on LitNet.