Quantcast
Channel: Kos en wyn - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 173

Ontdekkingsreis van geure in dié bleeksiel-lensieskottel

$
0
0

Sandra Vélez op Pixabay

Lensies is die bleeksiele van die koswêreld. Ek praat nou van doodgewone bruinlensies, nie van hul meer flambojante niggies en nefies aan die dhal-kant nie. Nee, daardie vaal pakkies op die supermarkrakke wat jy maklik sal verbyloop as dit nie spesifiek op jou inkopielysie is nie.

Bruinlensies is ’n staatmaker, ja, maar die vaal ou dingetjie is nou nie juis iets wat lang en vurige gesprekke onder fynproewers sal uitlok nie en die modewoord umami is beslis nie iets wat jy met dié outjie sal assosieer nie.

Hier by ons het die vaalseun vir ’n ruk lank sterstatus geniet toe onse Nataniël sy gewigsverlies aan ’n bruinrys-en-lensie-dieet toegeskryf het. Ek was destyds vermaakjoernalis by Huisgenoot toe Nataniël begin naam maak en sy dramatiese gewigsverlies en lensie-dieet toe nog meer nuuswaardig as sy ongelooflike talent was.

Nataniël was destyds in standerd ses (vandag se graad 8) toe ek in matriek aan dieselfde hoërskool in Kuilsrivier was. Toe al het hy die een prys na die ander vir sy klavierspel op kunswedstryde verower. Hulle het ook in dieselfde woonbuurt gebly en ek het die krulkopseuntjie op sy pers Chopper-fiets gereeld by ons huis sien verbyry.

Hy was in matriek in die jaar van Charles en Diana se troue. Ek het toe as jong proefonderwyser weer teruggegaan na my ou skool en ons het almal in die skoolsaal vergader om die groot oomblik op ’n grootskerm te volg. In daardie tyd het ek, baie onseker van myself, vir Nataniël se klas Shakespeare en Engelse gedigte aangebied.

Met dié dat hy in dieselfde woonbuurt as my ouers gebly het en vir sakgeld as orrelis by ons kerk opgetree het, het ek gereeld nuus van sy opgang op Stellenbosch gehoor. In sy tweedejaar, so het ek gehoor, het hy ’n volledige opera gekomponeer. En toe het sy eie konserte, ook sy “vreemde” voorkoms begin aandag trek.

Daar was ook die wonderlike storie van hoe hy die kerkkoor een middag in die kerk laat oefen en onder die galery gaan staan het om te luister hoe dit dié Sondag vir die gemeente sou klink. Salig onbewus dat die dominee in die konsistorie sit en werk het, skreeu hy toe daar van onder af: “Nee! Julle sing k*k!”

Die koorlede was al gewoond aan hom en baie lief vir hierdie eksentrieke koorleier en kind van die gemeente. Maar die dominee, nog van die ou soort, was bleek geskrik en prekerig oor die “insident”.

Van hoeveel waarheid daar in die storie steek en hoeveel stertjies agterna aangelas is, kan ek nie met sekerheid sê nie. Maar omdat dit my mense is en ek hulle van jongs af leer ken het, het dit my baie lekker laat giggel.

Ek het eers weer met Nataniël te doen gekry toe ek by Huisgenoot begin werk het en hy besig was om opgang te maak in die vermaakwêreld. En, soos ek gesê het, toe was sy vaal dieet nog meer nuuswaardig as sy merkwaardige talent.

Voor in sy eerste boek, Excuse Me, het hy ’n lekker tong-in-die-kies bedanking aan my gerig: “[...] en vir Karen Hart, wat my toe in Huisgenoot gesit het.” In Februarie 2020, lank nadat ek by die tydskrif weg is en die vermaakwêreld vir my kombuis verruil het, pryk Nataniël in al sy glorie op die voorblad van die einste Huisgenoot.

Vandag onthou mense skaars van die dieet en die lensies lê weer vaal en vergete op die winkelrakke. Tot die kospryse mense weer dwing om die vaalseuns deel te maak van hul inkopielysies.

Toe ek destyds met my tweede man getroud was, was ons baie jonk en het min geld gehad. In ons vriendekring was baie paartjies en enkellopendes wat hulle in dieselfde posisie bevind het. Maar dit het ons nie gekeer om saam te kuier en baie pret te hê nie.

Naweke was ons op die klein strandjie tussen Clifton se Derde en Vierde. Heeldag in die son en die yskoue water. Agterna het ons by die destydse Pavilion in Seepunt gestop en met ons see-en-sand-lywe kaalvoet onder die dekgrassambrele by die tafeltjies gaan sit met slaptjips en vonkelwyn.

Ons het hot dog-aande gehad, geklee in volle aanddrag, en agterna op die promenade in Seepunt gaan stap. Ons het Sondag middagete saam by die tafel aangesit en agterna op die treintjie daar op die promenade in Mouille Point gaan ry.

...........
Elke keer het die kosmakery op my skouers geval. Dit was immers toe al my passie. Maar dit het bars gegaan om vriende ook te voed op ons klein begroting. En dis toe dat ek en lensies mekaar leer ken en intiem bevriend geraak het.
...........

Elke keer het die kosmakery op my skouers geval. Dit was immers toe al my passie. Maar dit het bars gegaan om vriende ook te voed op ons klein begroting. En dis toe dat ek en lensies mekaar leer ken en intiem bevriend geraak het.

’n Regte staatmaker ...

Maar, soos ons almal mos nou al weet – bruinlensies is beslis nie een van die aanskoulikste disse wat jy op die tafel kan sit nie en daar is bittermin wat jy kan doen om dit mooier te laat lyk sonder om jou gaste agterdogtig te maak.

Ek het die kuns vervolmaak om die smaaklikste lensiedis wat jy jou kan verbeel, voor te sit. Laag op laag het ek soveel geur ingebou. Die bybelse Esau sou beslis sy geboortereg vir hierdie ene prysgegee het.

Maar aan die voorkoms van die dis kon ek min doen. Vaal en bruin ... Hier was dit beslis nie ’n geval van “eet eers met jou oë” nie.

Ek onthou die een meisie wat by ons gekuier het, so ’n gesofistikeerde blondine met ’n vreeslike houding. Sy het die vaal bak net één kyk gegee en taamlik neusoptrekkerig meegedoen toe sy besef daar is nie iets anders op die tafel nie. Maar op die ou einde was sy die een wat drie keer gaan skep het.

En ná dié lensiepot het ons baie goeie vriende geword – al daai aansitterigheid wat my aanvanklik so geïrriteer het, was toe eintlik ’n skans waaragter haar skaamgeit geskuil het.

Ek het intussen die lensies in my kombuis tot sterstatus verhef met my verruklike lensiebobotie en geurige lensieburgers, heerlike lensiesop met varkskenkel en ’n heel gesofistikeerde lensieslaai.

Maar hierdie dis, waarmee ek destyds die platsak kanniekokers verlei het, bly nog my gunsteling.

Karen se Lensieskottel

2 koppies bruinlensies
4 koppies koue water
1 lourierblaar
1 gekapte ui
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
3 eetlepels olyfolie
200 g piekelgrootte uitjies (of uie in skywe gesny)
200 g dwergworteltjies (of wortels in skywe gesny)
2 eetlepels klewerige bruinsuiker (muscovado)
¼ koppie aftreksel (hoender-, groente- of beesvleis-)
¼ koppie witwyn
1 teelepel vars, gekapte tiemie
3 eetlepels botter
3 eetlepels koekmeel
150 ml rooiwyn

Plaas die lensies en die water saam met die lourierblaar en gekapte ui in ’n groot kastrol en kook totdat die lensies byna gaar en nog ferm is. Hou maar dop om te keer dat dit nie sag kook nie – pap lensies is nog minder aanskoulik. Geur met sout en peper na smaak. Terwyl jy wag vir die lensies om te kook, verhit die olie in ’n pan en braai die uie en wortels vir ongeveer 5–7 minute voordat jy die bruinsuiker bo-oor strooi en dit laat karamelliseer. Voeg die aftreksel en witwyn by. Geur met sout en peper en roer die tiemie by. Verlaag die hitte, bedek die pan en laat vir 20 minute prut. Voeg die inhoud van die pan by die lensies. Meng die botter en koekmeel tot jy ’n gladde pasta het en roer dit deur die lensie-wortel-en-uiemengsel. Proe en voeg nog sout en peper by indien nodig. Voeg die rooiwyn by en laat vir nog so 10 minute prut. Skep in ’n mooi opdienbak en verras jou tafelgenote met al die geure wat in daardie vaal bak skuil.

The post Ontdekkingsreis van geure in dié bleeksiel-lensieskottel appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 173


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>