
https://pixabay.com/photos/red-velvet-cake-cake-dessert-4917734/
.............
Ek kan nie onthou waar ek die resep vir my eerste grootkoek in die hande gekry het nie – dalk uit een van my ma se drie resepteboeke, wat op die rak staan en stof vergaar het. Of miskien het ek dit iewers in ’n tydskrif raakgelees.
...............
Ek kan nie onthou waar ek die resep vir my eerste grootkoek in die hande gekry het nie – dalk uit een van my ma se drie resepteboeke, wat op die rak staan en stof vergaar het. Of miskien het ek dit iewers in ’n tydskrif raakgelees.
Ek was al 12 jaar oud en het geen benul van bak of kook gehad nie. As ek so kyk na die klein kokke wat aan die TV-kookprogramme deelneem, vermoed ek hulle begin al kook- en baklesse kry terwyl hulle nog hul moedersmelk met ’n tongtippietoets beoordeel.
My ma het nie gebak nie. Sy sou dit waarskynlik kon doen as sy dit nie so gehaat het om deur ’n resep voorgeskryf te word nie. Met kook kan jy nog met die soort rebelsheid wegkom, maar die wetenskap van bak gun jou net soveel kortpaadjies en agterdeurtjies voordat jou koekpanne hul tassies pak en op die vlug slaan.
My ma het nie eens ’n enkele koekpan gehad nie. Vir daardie eerste koek moes ek gou twee pannetjies by die bure gaan leen. Die bak-engele het daardie dag oor my gewaak. En dis waarskynlik my onkunde wat my netjies oor al die slaggate heen laat vlieg het. Die koek het nie te onaardig gelyk nie en was so lekker dat daar niks van oorgebly het om vir die volgende dag weg te bêre nie.
Ek wens ek kon sê dit was die begin van ’n belowende bakloopbaan. Die saadjie is geplant, ja, maar ná daardie eerste koek het baie jare verby gegaan voordat ek weer my hand aan ’n koekpan gewaag het.
Self het ek nie kinders gehad nie, maar vir my broer en suster se seuns het ek vir elkeen met hul tweede verjaardag ’n treintjiekoek gemaak – sommer winkelkoek gekoop, gesny en versier en met baie lekkergoed opgedollie.
My eie koekpanne het ek eers baie jare later aangeskaf. Maar ek het baie gou geleer resepte vertel jou maar baie min van die eintlike bakproses. Ek het toe begin luister wanneer mense vertel het van die dinge wat hulle by hul ma’s geleer het. Ek het op die internet gesoek na redes wanneer ’n koek wat ek met soveel oorgawe gebak het, in die asblik beland.
Ek het geleer om my meel saam met die ander droë bestanddele drie keer te sif. Ek klits my suiker saam met eiers of botter, afhangend van die resep, met die grootste geduld. Elke resep skryf voor die mengsel moet lig en romerig wees, maar niemand waarsku jou hoeveel geduld en hoeveel tyd jy nodig gaan hê om daardie punt te bereik nie.
So met tref-en-trap het ek darem op die ou einde ’n redelike repertoire opgebou en die mense het my naam begin noem wanneer iemand ’n grootkoek vir ’n spesiale geleentheid soek.
Dis die groot lekkerte van die bak – jy word deel van ander se feestelikheid sonder dat jy die partytjie hoef by te woon. Ek is ’n eenkantmens wat half sku is vir sulke byeenkomste, maar dis wonderlik om die blydskap en afwagting op mense se gesigte te sien wanneer ek hulle die eerste keer die koek wys wat ek vir hulle gebak het.
Ek het nie die begeerte of die geduld om my met fyn versierwerk op te hou nie. Ek maak ’n koek mooi, ja, maar binne my vermoëns. Ek kyk oopmond na foto’s van die kunswerke wat bakkers in hul kombuise optower, lees al die wenke oor tekstuur en kleur en sidder so ’n bietjie in my binneste.
...........
Wanneer jy kan koek bak, glo mense jy kan wondere verrig. Ek sukkel om nee te sê. En sedert ek op 12, sonder ’n koekpan in die huis, besluit het om ’n koek te bak, kan ek ’n uitdaging nie weerstaan nie.
................
Wanneer jy kan koek bak, glo mense jy kan wondere verrig. Ek sukkel om nee te sê. En sedert ek op 12, sonder ’n koekpan in die huis, besluit het om ’n koek te bak, kan ek ’n uitdaging nie weerstaan nie.
Toe ’n vriendin se seun getrou het, het ek aangebied om ’n koek te bak. Dit sou ’n klein onthaal gewees het, byna soos ’n teepartytjie en ek het gemeen my drielaagsjokoladekoek sou voldoende gewees het.
Maar die hele affêre het toe net groter en groter geword en toe ek my kom kry, moet ek ’n propperse troukoek maak. Sjokolade, ja, maar met dofroos versiering en regte blomme, met vars aarbeie in die vulsel tussen die lae. Net iemand wat al jare lank bak, sal verstaan watter nagmerrie op my gewag het.
Ek sal liewer die besonderhede verswyg. Net dit – dit was daardie dag seker die warmste dag van die somer en ek het nog nooit in my lewe so hard gebid nie. In my geestesoog het ek gesien hoe daardie hele koek neersyg en inplof wanneer die bruid en bruidegom die koek sny.
Toe nie. Die koek was ’n dawerende sukses, het ek agterna gehoor, en ek kon nie help om my te verlekker toe mense my vertel hoe sleg die kos van die restaurant, waar die troue gehou is, teen die troukoek afgesteek het nie.
My grootste nagmerrie, naas troukoeke, is verjaardagkoeke vir kinders. Ek sê gewoonlik sommer van die begin af ek doen nie kinderpartytjies nie, maar voor ek my oë uitvee sit ek alweer met ’n gedrog van ’n koek wat ’n kompeterende ma op Pinterest raakgesien het.
Ek wil graag eendag die sadis wat daardie internetnagmerrie begin het, teen ’n muur staanmaak en pot met al die koeke van my wat oor die jare heen in asblikke beland het!
Die kinderkoeke gewoonlik met die een of ander monstrositeit van ’n TV-karakter as tema. (Wat het geword van treintjiekoeke?) En die enigste manier waarop jy as amateurbakker so ’n TV-karakter herkenbaar kan laat lyk, is om maar te gaan toustaan by die bakwinkel en ’n gangbare prent op eetbare versiersel te laat druk. Dit lyk en smaak aaklig en gaan teen elke bakbeginsel in my wese. Maar as dit nie anders kan nie ...
Die gesukkel en gekla verdwyn baie vinnig wanneer jy daardie koekpanne uit die oond haal. En min dinge gee vir jou soveel bevrediging soos daardie gevoel wanneer jy daardie laaste bietjie versiersel op ’n koek afrond, terugstaan en jou handewerk bekyk.
Maar koeke het ook die manier om jou nederig te hou. Nes jy begin dink jy vaar nie te sleg nie, selfs grootkop begin kry, word jy op jou knieë gedwing deur ’n koek wat jou vir weke agterna nog nagmerries gaan gee.
En nou die dag was ek in ’n groot bakwinkel waar ek al my bestanddele in groot maat aankoop. Toe ek by die kasregister staan, spog-kla ek (in Engels) by die kassier en haar helper oor die koeke wat ek moet bak. Met die wegloop hoor ek hoe sy vir haar helper in Afrikaans sê: “Snaaks, sy lyk nou nie juis na een wat kan bak nie.”
Karen se Feestelike Rooifluweelkoek
Lewer een drielaagkoek van 22 cm
Vir die koek
3½ koppies koekmeel
170 g sagte botter
2¼ koppies suiker
3 eiers
6 eetlepels rooi voedselkleursel
3 eetlepels kakao
1½ teelepels vanielje
1½ teelepels sout
1½ koppies karringmelk
1½ teelepels appelasyn
1½ teelepels koeksoda
Vir die versiersel
125 g sagte botter
1 x 240 g-houer roomkaas
1 teelepel vanielje
¼ teelepel sout
4 koppies versiersuiker, gesif
Sif die koekmeelblom in ’n kleiner mengbak en hou eenkant. Klits die botter en suiker in die bak van jou elektriese menger tot lig en romerig (wees geduldig en klits maar – minstens 5 minute lank). Voeg die eiers een vir een by en klits ná elke byvoeging tot net-net gemeng. Nie te veel nie, anders skif jou mengsel. Meng die rooi voedselkleursel, kakao en vanielje in ’n klein bakkie en voeg by die mengsel in jou menger. Meet die karringmelk af in ’n maatbeker en roer die sout by. Voeg ’n derde van die mengsel by die mengsel in jou menger, terwyl jy teen ’n lae spoed klits. Wissel dit af met ’n derde van jou koekmeel. Meng goed ná elke byvoeging. Eindig met die koekmeel. Meng die koeksoda en appelasyn en voeg dit by die deeg. Meng goed. Verdeel die deeg tussen drie gesmeerde losboomkoekpanne van 22 cm wat met bakpapier gevoer is. Bak vir 30–40 minute in ’n voorverhitte oond van 180 ºC. Haal die panne uit die oond en laat die koeklae net so in die panne afkoel vir ’n uur voordat jy dit versigtig op draadrakke uithaal om heeltemal af te koel. Maak intussen die versiersel: Klits die botter en roomkaas in die mengbak van jou elektriese menger tot glad en sonder klonte. Voeg die vanielje en sout by en meng goed. Voeg die versiersuiker bietjie vir bietjie by, terwyl jy teen ’n lae spoed klits. Wanneer jou koeklae heeltemal afgekoel het, smeer jy die versiersel tussen die lae en bo-op die koek. Moenie die kante bedek nie – die lieflike rooi kleur van die koek is baie indrukwekkend. Versier dan soos jy wil.
WENK: Indien jou mengsel vir die versiersel te slap is, kan jy nog ’n bietjie versiersuiker byvoeg totdat jy tevrede is met die tekstuur.