
Prent: https://pixabay.com/photos/food-kitchen-chutney-spices-3539594/
My beste vriend, my sielemaat, het genoeg gehad het van die lewe. Twee soorte kankers vreet aan sy lyf, die een ongeneeslik. Hy kies om nie die einde van sy lewe hulpeloos en alleen in ’n hospitaalbed te slyt nie. Maar dis nie die eintlike rede nie. Dis sy gees – dié is deurtrek met die kanker van onthou, die gruwels uit sy kinderdae en die verwerping.
Hy het sy einde haarfyn beplan, alles in fases uitgewerk – ook die uitdeel van die mooi goed waarmee hy hom sy lewe lank omring het. En ’n laaste nalatenskap aan dié wat na aan hom was en hy nou gaan agterlaat.
Vir my het hy die laaste paar maande opsy gesit om te sorg dat ek die grys gordyn wat die koorstyd en my ma se demensie oor my lewe getrek het, sal afruk en die helder lig en lewe weer sal inlaat. So ironies dat die een wat genoeg gehad het van die lewe, my weer met nuwe oë na die lewe laat kyk.
Elk dag dra hy stapels CD’s aan en ek moet plek maak in my rakke. Hy speel platejoggie terwyl ek kook en maak nuwe wêrelde vir my oop met name en stemme waarvan ek nog nooit gehoor het nie, ook meer bekendes na wie ek nooit andersins sou geluister het nie.
Ek word op ’n staptoer deur die winkeltjies in Wynberg se hoofstraat geneem en ontdek nuwe bestanddele – vreemd vir my, maar so eie aan Afrika. Dan is daar ook die meer bekende speserywinkels en onopvallende klein winkeltjies wat van vloer tot plafon toegerus is met alles wat ek nodig het vir my bakkery. Ek koop die lekkerste gerookte snoek sommer daar op die sypaadjie en nartjies wat byna oorweldigend soet en sappig in my mond oopbars.
En so tussendeur kry ek die een lesing op die ander oor hoe ek uit my dop moet kruip en my “uitsonderlike talent met die wêreld moet deel”. Met elke maaltyd wat ek kook, kreun hy van genot en besing my lof. My huismense kyk met nuwe oë na my. Selfs my ma, met haar demensie, het nou die dag uit die bloute opgemerk toe my vriend die een dag nié aan tafel is nie. “Waar is daai man nou? Hy sou hierdie kos regtig geniet het.”
Die volgende uitstappie op sy lys is na ’n plek wat feitlik hier op my voorstoep is. En ek was die heeltyd salig onbewus daarvan.
Hy het in die plaaslike koerantjie gelees van ’n skattejag wat deur een van die veiligheidsmaatskappye vir die inwoners van Plumstead en omgewing georganiseer is – ’n soort van ’n leer-jou-omgewing-ken. Een van die leidrade het te make gehad met die huis waar Mrs Balls lank gelede haar blatjang gekook het – skaars ’n straatblok of twee van waar ek nou woon.
Voordat hy my kom haal om my te gaan wys waar sy gewoon het, gaan maak hy eers doodseker van sy feite en klop bure en huisagente op om uit te vind watter huis dit is. Eers toe word ek in die motor gelaai, ’n bottel blatjang in die hand gestop en gewys hoe ek deur die traliehek ’n foto van die huis moet neem sodat die blatjang ook deel uitmaak van die prentjie.
.........
Terug by die huis gaan sit ek en hy om die kombuistafel en soek op die rekenaar om seker te maak wanneer Mrs Balls haar blatjang op primusstofies in daardie groot ou huis in Southfieldweg gekook het.
..............
Terug by die huis gaan sit ek en hy om die kombuistafel en soek op die rekenaar om seker te maak wanneer Mrs Balls haar blatjang op primusstofies in daardie groot ou huis in Southfieldweg gekook het.
Dit het ’n rukkie geneem om deur al die feite en versinsels te sif. Mrs Balls was die dogter van kaptein Henry Adkins en sy vrou, Sarah. Hulle het die resep vir die blatjang gekry van ’n Indiese kok wat aan boord van die SS Quansa gewerk het. Die romantiese weergawe van die verhaal weet te vertel dat die skip onderweg van Kanada na Australië hier aan die kus van Oos-Londen gestrand het. Maar die feite en datums stem nie ooreen nie.
Die kaptein en sy vrou het hulle wel in Fort Jackson, naby King William’s Town, gaan vestig, waar hulle jare lank met hul sewe seuns en vier dogters gewoon het. Ma Sarah het al die jare die blatjang gekook en die resep vir haar dogter, Amalia, gegee. Amalia het Mrs Balls geword toe sy met meneer Herbert Sandleton Balls getroud is.
Toe Amalia se ma die blatjang gekook het, het sy dit onder die naam Mrs Henry Adkins, Sen., Colonial Chutney Manufacturer bemark. Haar dogter Amalia s’n het Mrs HS Balls Chutney geword. (Die “HS” het natuurlik na haar man se voorletters verwys, want in daardie dae het vroue mos hul naam en identiteit verloor wanneer hulle getrou het.)
Amalia se man het as superintendent vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë gewerk en hulle het met hul sewe kinders op verskeie plekke rondom Kaapstad gewoon, onder andere in die huis hier in Southfieldweg, Plumstead, voordat hulle hul uiteindelik in Vishoek gevestig het.
Sy het aanvanklik die blatjang net vir kerkbasaars en kermisse gekook. Haar man het op die trein na Kaapstad met bottels blatjang gesmous. Hul nederige ou onderneminkie het gegroei en uiteindelik het die primusstofies te veel vir die huis geword.
Dis toe dat ’n sakeman, Fred Metter, kom hand bysit het en hulle gehelp het om ’n fabriek eers in Retreat en toe in Woodstock te begin. Dit was ook Fred wat aangedring het op die oktagonale glasbottel wat tot vandag toe nog so eie aan Miesie Balls se blatjang is.
Amalia is eers op 97 oorlede en het ’n ryke erfenis agtergelaat. Die familie-onderneming is deur die groot kosreuse opgekoop en haar blatjang word vandag ook oorsee versprei.
..........
Mrs Balls se blatjang is so deel van ons koskultuur soos biltong en beskuit. En gaan kyk maar in Ouma se handgeskrewe resepte – iewers daar sal jy op ’n resep vir blatjanghoender afkom, tot vandag toe nog ’n groot gunsteling.
............
Mrs Balls se blatjang is so deel van ons koskultuur soos biltong en beskuit. En gaan kyk maar in Ouma se handgeskrewe resepte – iewers daar sal jy op ’n resep vir blatjanghoender afkom, tot vandag toe nog ’n groot gunsteling.
Probeer dit gerus. Dis die lekkerste lekker – regte koesterkos. En wanneer jy daardie eerste happie vat, dink aan ’n ou huis in Southfieldweg, ’n primusstofie en ’n groot blink pot waarin die blatjang prut.
Jy gryp daardie grys gordyn en ruk dit met albei hande af. Dan maak jy oë toe en sê dankie vir die lewe.
Karen se blatjanghoender (sonder die soppoeier)
Genoeg vir 4
1 groot ui gehalveer en in skyfies gesny
3 lourierblare
8 hoenderstukke
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
½ koppie blatjang
½ koppie mayonnaise
½ koppie lemoensap
3 eetlepels Worcestershiresous
Rangskik die uie in ’n oondroosterpan en plaas die lourierblare bo-op. Geur die hoenderstukke met sout en peper en pak in ’n enkellaag, met die velkant na bo, op die uie. Klits die blatjang, mayonnaise, lemoensap en Worcestershiresous in ’n mengbakkie tot goed gemeng en gebruik ’n kombuiskwas om die hoenderstukke daarmee te verf. Sprinkel die oorblywende sous bo-oor. Bedek die pan met foelie en bak vir 30 minute in ’n voorverhitte oond van 180 ºC. Haal die foelie af en bak so oop vir nog 30 minute of totdat die hoender gaar is en mooi verbruin het. Bedien saam met rys en ’n lekker mengelslaai of gestoomde groente.
Wenk: Jy kan die lemoensap weglaat en dieselfde hoeveelheid hoenderaftreksel in die plek daarvan gebruik.
The post Karen se blatjanghoender appeared first on LitNet.