
Fotobron: https://pixabay.com/photos/sunset-table-mountain-landscape-sky-5004905/
Ek sê altyd ek het nie kinders nie. Dis nie waar nie. Ek het ’n seun. Hy is aan my toegewys – byna soos Johannes en Maria in die Bybel. By ’n vullisdrom. Vroeg op ’n Vrydagoggend.
Vrydae, die dae waarop die vullisdromme leeggemaak word, was altyd vir my ’n nagmerrie daar in Woodstock. Vir eers moes ek sorg dat ek nie vergeet nie en sorg dat die drom betyds buite op die sypaadjie kom. En dan het ek ’n wakende oog gehou om te sorg dat die mense wat hoopvol vir ’n verlore broodkorsie in die drom kom krap nie die hele sypaadjie bemors nie.
Dis hoe ek M die eerste keer ontmoet het. Nege jaar gelede. Ek het uitgestorm toe ek die twee manne by my vullisdrom gewaar, maar iets het my teruggehou en ek het mooi gevra dat hulle nie mors nie. Julle kan Vrydagoggende vroeg my deurklokkie lui – ek sal vir julle kos gee, het ek belowe. Die vriend het nooit weer gekom nie, maar M het elke Vrydagoggend by die hek gestaan. En ek het altyd gesorg dat ek iets vir hom het.
Dit het maande lank so aangehou. Op koue winteroggende het ek vir hom ’n koppie warm koffie gemaak en ’n lekker geroosterde kaastoebroodjie. Nog vuurwarm. Ek het eers baie later uitgevind my koffie is hopeloos te sterk vir M. En hy hou glad nie van geroosterde kaastoebroodjies nie.
Ons het so deur die traliehek gesels. Dit het maar moeilik gegaan, want M se Engels is nie van die beste nie. En ek kan nie Xhosa praat of verstaan nie. En ek het gewonder hoe dit gekom het dat hierdie jongman op straat beland het.
..............
Ons het so deur die traliehek gesels. Dit het maar moeilik gegaan, want M se Engels is nie van die beste nie. En ek kan nie Xhosa praat of verstaan nie. En ek het gewonder hoe dit gekom het dat hierdie jongman op straat beland het.
.............
Toe dit begin lente word, het hy my gevra of hy my in die tuin kan kom help. Want, het hy plegtig gesê, hy wil graag dankie sê vir alles wat ek vir hom gedoen het. Daardie volgende week het ek twee kosfotosessies gehad – die Maandag en die Woensdag. Die Woensdag s’n was buite, by die braaivleisvuur, en my einaklein tuintjie kon baat by ’n bietjie netjies maak. Ek vra hom toe om die Maandag te kom. Ek was nie bang nie, maar dit was seker verantwoordelik om te sorg dat daar genoeg mense om my sou wees.
Daardie dag het hy méér as sy deel gedoen. Almal het daardie dag voor sy sjarme geswig – die fotograaf, die kunsredakteur. En hy het net dieper in my hart ingekruip. Toe ek hom wil betaal vir die werk wat hy gedoen het, het hy geweier. Dit was om dankie te sê, het hy volgehou. Maar dit werk nie so by my nie en op die ou einde het hy tog die geld aanvaar. Ek vra hom toe om die Woensdag ook te kom om met die braaifotosessie te help.
Nou nog, nege jaar later, koester hy die grootste bewondering vir die destydse kunsredakteur van die tydskrif. Nithaam, sê hy, het hom in die oë gekyk en soos ’n mens behandel toe hy nog op straat was.
Ek het nie veel van ’n tuin gehad nie en die werk het gou opgedroog. Ek het ook gou agtergekom M se hart lê nie by tuinmaak nie. Hy het die werk met oorgawe gedoen, maar hy het met groter belangstelling die bakkery en kosmakery dopgehou.
Dit het maar rof gegaan. Ek het groot bestellings kleinkoekies vir winkels gebak en dit was nie lank nie of M begin inspring om te help. Dis toe dat ek agterkom hy het ’n natuurlike aanvoeling. Hy leer ook vinnig. “Karen,” het hy trots gesê, “you only show me once.”
M het gou ’n onmisbare deel van my Toorkombuis geword. En Saterdae, wanneer ek my tafel by die mark by The Palms uitpak, was M aan my sy. Hy het vroegoggend al begin help om alles gereed te kry.
Toe hy vir my begin werk het, het hy saans in die bos net onderkant die snelweg naby die ou Distrik Ses geslaap. Die man wat homself daar in beheer geplaas het van die groepie wat daar geslaap het, was ’n ou tronkvoël. Hy het gou agtergekom M het begin geld verdien en het hom R80 “huurgeld” vir sy slaapplekkie daar in die bos gevra. Hy het ook alles wat M by my gekry het, afgevat en verkoop om geld vir dwelms te kry.
M was gestres en bang en op die ou einde het ons vir hom ’n plekkie in my motorhuis ingeruim totdat hy ander blyplek kon kry. Ek het gou agtergekom M het nie planne gehad om weg te trek nie en ek het maar aanvaar hy het gekom om te bly. Met ’n bed en televisie was hy gelukkig en tevrede in sy nuwe “kamer”.
En toe die eienaar van my huisie in Woodstock besluit om die huis op te knap sodat hy self daar kan bly, het ek ’n plek gesoek waar my ma, M en Bliksem ewe gelukkig sou wees. Met elke huis waarna ek gaan kyk het, het ek eers die voor- en nadele met M bespreek.
M het nou ’n kamer in die agtertuin waar hy op sy bed kan lê en die voëltjies kan dophou. “Karen,” sê hy, “I like birds better than people.” En baie dae kan ek nie anders as om met hom saam te stem nie.
En die voëls voel dit aan. Die hadida soek hom gedurig op, het al selfs sy maat tot in M se kamer gebring. M moet gedurig die duiwe wat by sy kamer invlieg, na buite toe help. Hy brom dat hy hulle vir Bliksem gaan voer, maar ons weet albei dat hy eintlik so ’n bietjie gevlei voel.
Dis ook nie net die voëls nie. Ek verstom my elke dag aan die deernis waarmee hy my ma behandel, hoe mooi hy na haar kyk. Hy steur hom min aan haar buie. “Ouma is old,” sê hy net met ’n ophaal van die skouers.
In daardie eerste verskriklike maand van grendeltyd, toe ek skielik gekonfronteer word met die harde werklikheid van my ma se demensie, was M my redding. Die drie van ons het soggens rustig op die stoep gesit en laatmiddag was dit hy wat my gehelp het met my ma se aanvanklike aggressie en rustelose rondlopery.
..........
Hy het in daardie tyd nog dieper in my hart ingekruip. Nie een van ons twee wys maklik ons gevoelens nie. Ek sal nooit vir hom sê dat hy soos ’n seun vir my is nie. Hy praat ook nie. Maar een oggend, in ’n onbewaakte oomblik, het hy my só gekyk en gesê: “Karen, if you know you’re going to die, call me and I’ll die for you.”
...........
Hy het in daardie tyd nog dieper in my hart ingekruip. Nie een van ons twee wys maklik ons gevoelens nie. Ek sal nooit vir hom sê dat hy soos ’n seun vir my is nie. Hy praat ook nie. Maar een oggend, in ’n onbewaakte oomblik, het hy my só gekyk en gesê: “Karen, if you know you’re going to die, call me and I’ll die for you.”
En ek? Ek wys hoe ek voel op die enigste manier wat ek ken – my hart praat deur die kos wat ek maak. Toe ek hierdie gereg die eerste keer gemaak het, was ek ’n bietjie skepties hoe hierdie smeltpot van Mediterreense smake ontvang sou word.
..........
Hierdie een is nou baie hoog boaan die trefferlys en ek maak dit gereeld. Wanneer hy vir hom van hierdie potjie skep, sê M, lyk sy bord soos Tafelberg, lekker hoog gestapel. Dis een van sy groot gunstelinge.
...........
Maar ek was verniet bang. Hierdie een is nou baie hoog boaan die trefferlys en ek maak dit gereeld. Wanneer hy vir hom van hierdie potjie skep, sê M, lyk sy bord soos Tafelberg, lekker hoog gestapel. Dis een van sy groot gunstelinge.
Karen se Tafelberg-potjie (vir M)
Genoeg vir 4
3 eetlepels olie
2 groot uie, fyngekap
1 mollige knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, naatjies en pitjies verwyder en fyngekap
300 g maalvleis
1 groot of 2 kleiner rooi soetrissies, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in repies gesny
4 murgpampoentjies, in ringetjies gesny
1 x 250 g-houer knopiesampioene, in skyfies gesny
1 eiervrug, in blokkies gesny
4 klein of 2 groot tamaties, opgekap
1 eetlepel varsgekapte origanum of 1 teelepel droog
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
3 koppies beesvleisaftreksel
½ van 500 g-pak spaghetti, in stukkies gebreek.
Verhit die olie in ’n swaarboomkastrol en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffeltoontjies en brandrissie by en braai nog vir ’n minuut of twee. Voeg die vleis by en roer met ’n vurk sodat daar nie klonte vorm nie. Braai totdat die vleis heeltemal verkleur het en lekker lossies is. Voeg die soetrissies by en braai vir ’n paar minute saam voordat jy die murgpampoentjies, sampioene, eiervrug, tamaties en origanum byvoeg. Meng alles goed saam en geur met sout en peper. Giet 2 koppies van die aftreksel by, verlaag die hitte, bedek die pot en laat vir 20 minute prut of totdat die groente mooi sag en die vleis gaar is. Roer die spaghetti by en voeg die oorblywende koppie aftreksel by indien die vloeistof te min is. Laat vir 20 minute prut of totdat die pasta sag is en die vloeistof weggekook het.
Wenk: Dis beter om een koppie van die aftreksel terug te hou omdat dit moeilik is om te voorspel hoeveel vloeistof uit die groente gaan kook. Meestal sal dit wel nodig wees om die derde koppie aftreksel by te voeg wanneer jy die pasta in die pot sit.
The post Karen se Tafelberg-potjie (vir M) appeared first on LitNet.