Inskrywings vir Suid-Afrika se toonaangewende wynskryfkompetisie is nou amptelik oop. Die Du Toitskloof SA Wynskrywerskompetisie, in samewerking met Standard Bank, nooi wynskrywers wat reeds minstens een stuk in drukformaat of aanlyn gepubliseer het, om hul inskrywings voor of op die sluitingsdatum van 30 September in te dien.
Die kompetisie word vanjaar vir die derde keer aangebied, en die skrywer van die wenartikel sal weer R30 000 in die sak steek.
Volgens Marius Louw, uitvoerende hoof van Du Toitskloof-wyne, sal vanjaar se tema deelnemers vra om in die kristalbal te loer en te voorspel hoe die Suid-Afrikaanse wynbedryf oor 20 jaar sal lyk.
“Een van die kenmerke van die hedendaagse wynbedryf waaroor plaaslike en internasionale kommentators al breedvoerig geskryf het, is die groot veranderinge wat oor die afgelope twee dekades in die bedryf plaasgevind het,” sê Louw. “Met dit in gedagte, wil ons graag sien dat deelnemers aan vanjaar se wynskryfkompetisie ‘n voorspelling waag van die bedryfscenario wat hulle vir 2035 voorsien.
“Oor die afgelope 20 jaar was verandering een van die groot kenmerke van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Uitvoere het toegeneem. Die aantal kelders en handelsmerke het ongelooflik gegroei. Sekere druifsoorte en wynstyle het uit die mode geraak en is deur nuwes vervang. Grootmaatwyn het ‘n belangrike dryfkrag geword. 'n Opwindende omgewing in die geheel gesien.
“Wat lê nou voor vir die volgende twee dekades?” Dít is die vraag waarop die Du Toitskloof-Wynskrywer van die Jaar-kompetisie, in samewerking met Standard Bank, jou menings wil hoor. In 'n artikel van tussen 1 500 en 2 000 woorde, skets 'n scenario vir die SA wynbedryf in 2035. Daar is geen beperking op die kenmerke wat jy wil bespreek nie – dit kan die opbloei van een druifsoort of wynstyl behels, of jou stuk kan verskeie aspekte aanraak, soos byvoorbeeld plaaslike verbruik, onontginde uitvoermarkte en nuwe wynstyle.
“Of wat van die regering se hangende wetgewing wat drankverbruik beperk, asook die uitdagings rondom grondhervorming? Dit is 'n kans om jou verbeelding vrye teuels te gee, met jou ervaring van die veranderinge in die bedryf sedert 1995 as inspirasie.”
Willie du Plessis, hoof van Standard Bank se besigheidsbankdienste in die Wes-Kaap, die medeborg van die kompetisie, meen dat vanjaar se tema besonder relevant is in die lig van uitdagings wat die Suid-Afrikaanse bedryf tans op verskeie terreine in die gesig staar.
“Dit sal fassinerend wees om die deelnemers se uitgangspunte oor die toekomstige toestand van die Suid-Afrikaanse wynbedryf te lees,” sê hy. “Die bedryf het drasties verander oor die afgelope 20 jaar, en weens die dinamiese aard daarvan kan niemand werklik voorspel hoe dit gaan lyk oor twee dekades nie. Ek is nietemin seker dat die kreatiewe en insigryke span Suid-Afrikaanse wynskrywers interessante lig op die onderwerp sal werp.
“As 'n organisasie wat van scenariobeplanning gebruik maak, sien Standard Bank uit na hierdie inskrywings en die waardevolle insigte wat hulle ongetwyfeld sal bied.”
Afgesien van die R30 000-prysgeld vir die wenner, sal die beste artikels ook in verskeie plaaslike publikasies verskyn.
Vanjaar se beoordelaars is Gabriël Botma van die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek, Ian Glenn, voormalige hoof van die Universiteit van Kaapstad se Mediastudiesdepartement, die ervare joernalis Ingrid Jones, huidige redakteur van Mango Juice-tydskrif, en Joan Hambidge, bekende digter, romanskrywer en literêre resensent wat ook kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad doseer.
Meer besonderhede kan gevind word by www.dutoitskloof.co.za onder die opskrif “Wine Writers Competition”.
The post Inskrywings oop vir Suid-Afrika se voorste wynskryfkompetisie appeared first on LitNet.