Daar's te veel kokke in die kombuis. Maar mens raak geheg aan hulle! Kokkedoor II loop einde se kant toe. Paul Venter vertel vir Naomi Meyer van die soektog na Suid-Afrika se groot indoena in die kykNET-kombuis.
Die tweede reeks van Kokkedoor loop einde se kant toe. Is daar doelbewus besluit om enigiets anders te doen met die tweede reeks as met die eerste reeks?
Met elk reeks bly die konsep en formaat presies dieselfde, maar klein veranderinge word wel doelbewus ingewerk om vars te bly en darem te sorg dat daar onverwagse kinkels in die kabels is!
Word daar ook doelbewus na MasterChef gekyk en daarmee vergelyk wanneer Kokkedoor beplan word – of juis nie?
Glad nie – die konsepte en formate verskil totaal. Dit beteken natuurlik nie dat ons nie ook almal van MasterChef hou of “fans” is nie!
Verlede week was die deelnemers se interpretasie van “afval” ’n tema. Hoe word temas elke week gekies?
Elke episode neem ’n tradisionele onthoukos-tema aan. Elke tema het ook gewoonlik ’n spesiale geleentheid daaraan gekoppel. Daar word dan elke episode van die Kokkedore verwag om daardie tema so goed moontlik te vertolk, ’n lekker kinkel te gee en moderne kleur en geur by te voeg. Temas en inhoud is die resultaat van ure se kreatiewe sessies en saam sit en uitwerk.

Waarom is Prins Albert as deelnemende dorp gekies?
Prins Albert was ons keuse omdat dit alles gebied het wat ons nodig gehad het: ’n leë stoor wat ons kon omskep in ’n ateljee, fantastiese vrugte, Karoolamswêreld, ongelooflike inwoners en, bo alles, “politieke neutraliteit” – almal in die land is mal oor die Karoo!
Mens raak geheg aan die deelnemers, veral as hulle lekker saam lag. Of ’n gemors saam aanvang. Of dalk nie meer bloedjonk is nie. Gewone mense! Kan kykers 'n verrassing verwag hier teen die einde, ten opsigte van wie uitval en wie agterbly vir die eindstryd?
Ons kan ongelukkig nie verras nie: die einddoel van Kokkedoor is nie net om wenners te kry nie, maar die beste kombinasie van kinkel- en onthoukokke wat ons tradisionele onthoukos weer modern en vars en opwindend die toekoms gaan invat. Die beoordelaars het dus ’n reuse-verantwoordelikheid om die heel beste twee aan die einde van die stryd te laat uittree, en hoe verder die spel vorder, hoe ernstiger word die proses!
Foto's deur kykNET voorsien
The post Wie's die groot kokkedoor in die kombuis? appeared first on LitNet.