Quantcast
Channel: Kos en wyn - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 176

Resensie: Strandveldfood deur Kobus van der Merwe

$
0
0


Titel: Strandveldfood
Outeur: Kobus van der Merwe
Kosfotograaf: Jac de Villiers
Uitgewer: Jonathan Ball Publishers
ISBN: 9781920289782

 

 

 

 

 

 

 

 

As “Weskuskos” in jou kop vashaak by kreefpotjie, bokkoms en snoek, sal Paternosterse veldkossjef Kobus van der Merwe en Kaapse fotograaf Jac de Villiers se pragbundel Strandveldfood jou betower en ook ’n gans nuwe kosbelewenis aan jou openbaar.

Kobus van der Merwe

Skaars het Strandveldfood op die rakke verskyn, of dit palm die gesogte Sunday Times Cookbook Award in vir Most Innovative Newcomer, en sjef Kobus van der Merwe word by die Eat Out Awards met die Nederburg Rising Star-toekenning bekroon. Welverdiend in albei gevalle, want boek sowel as sjef is uniek én briljant.
Waarom?

Heuningaskoek en kruiebotter

Strandveldfood vernuwe omdat dit ’n hoogs plekspesifieke Afrikaïese kookkuns na vore bring op ’n wyse wat nog nooit voorheen in Suid-Afrika gedokumenteer of selfs bedien is nie.

Die wortels hiervan het grondgevat in Kobus se brandende passie vir plaaslike koskultuur, spesifiek aan die Weskus, maar ook vir Bolandse en Kalaharikos: oererfeniskos getooi in ’n sjiek, nuwe en moderne gedaante, dog gestroop van alle pretensie en fieterjasies. Nes moderne Skandinawiese sjefs wat klem lê op foraging, volhoubaarheid en hul eie oererfeniskos en koskultuur, voortdurend verhedendaags, dra Kobus ’n ekobewuste boodskap oor: die natuur is nie ’n koskas wat jy sommer na willekeur kan plunder nie. Dis broos, en hierdie eienskap word met fyn kunstenaarshand in die foto’s en resepte weerspieël. Die natuur is nie slegs sy spens nie, dis medeskepper van sy kookkuns.

Kobus is ’n meesterstilis en sy borde lyk na stillewes, wat dan ook perfekte weerklank in Jac se asembenemende landskapfoto’s vind.

Rooisoetrissie gravlax

Kyk byvoorbeeld na die foto van Inkvisbobotie op bladsy 45; blaai om, en daar eggo ’n nabyskoot van klipmos so wrintie die voorfgaande bordkrangskikking. (Hier verdien MR Design darem ’n pluimpie vir bladuitleg en ontwerp wat met ’n meestershand gedoen is.) Hapseltjies springbok word aan kapokbosstokkies geryg en met moskonfyt en !naradoopsous bedien. Somerdashi – Japannees-geïnspireerd – herinner aan ’n klein getypoel met amper-deursigtige repies klipkombers, seeslaai, rooi seemos, vinkelblommetjies, suikerertjies en mossels wat in ’n helder vistreksel dryf. “Dit moet proe soos die essensie van die oseaan,” dink mens.

Strandveldfood se resepte benut hoofsaaklik die veld- en seeskatte, streng seisoenaal, wat Kobus dwarsdeur die jaar uit sy natuuromgewing oes. Hy skryf vloeiend, boeiend en bekoorlik en sy resepte toor ewe maklik met kapokbos, soutslaai, melkelsies, bokkoms, snoek, boegoe, mossels, bietoubessies, klipkombers, seewier, brandnetels en vye.  

Saldanhabaaimossels

Hierdie kleinood van ’n boek, pas uitgegee deur Sunbird, word op die voorblad beskryf as ’n Weskus-odyssee. Dit is ook ’n liefdesode aan die natuur, met verruklike kos- en landskapfoto’s deur veteraanfotograaf Jac de Villiers om Kobus se eiesoortige resepte te vergesel.

In die voorwoord beskryf Kobus die inhoud as ’n reeks “kiekies” wat ’n volle jaar se kook, eet, “plantjagtery” en fotografie in hierdie unieke landstreek weergee. Inspirasie kom van strandlopergeskiedenis, sy kosghoeroe, C Louis Leipoldt, asook die navorser en skrywer Renata Coetzee, die veldkoskenners Hedwig Swabig en Rupert Koopman, en ook sy oumas, wat kleintyd keurige boerekos aan hom voorgesit het.

Strandveldfood is naas kookboek ook ’n visuele en sintuiglike reis deur die natuur, ’n tour de force vir die fynproewer.

Die tweemanskap het noukeurig te werk gegaan om slegs díe seisoenale bestanddele te gebruik wat ook op Kobus se eie spyskaarte by sy piepklein Paternosterse kafeetjie, Oep ve Koep, verskyn. Dit is by hierdie koswinkeltjie dat Kobus sy reis as uniek begaafde kok begin het nadat hy in November 2009 sy frustrerende stadslewe as webredakteur in Kaapstad die rug gekeer het. Aangesien dat die kafee aan sy ouers behoort het, het dit hom vrygestaan om na hartelus te begin eksperimenteer en het hy uit die staanspoor begin om geregte uit die veld-, see- en plantkosse eie aan hierdie fynboslandskap voor te berei.

Hy het ’n blog begin om sy eksperimente en ervaringe te dokumenteer, http://www.sardinesontoast.co.za, en ook by die Toffie Pop Culture Conference & Festival in 2012 opgetree. Spoedig het hy ’n amper kultusgevolg opgebou, met lekkerbekke wat entoesiasties vanuit die Kaap en elders sou reis om sy keurkos te geniet.

Algaande het hy sy kulinêre aanslag vervolmaak en vorendag gekom met nuutskeppings soos suikermielieroomys, tamatiekonfyt en brosbrood (bl 73);  teegerookte engelvis met soetmosterdsous soos die maan wat opkom, mosbeskuit en wilderadys (bl 126); Stofbergsfontein: piekelvis, perskemebos, rissiedruiwekonfyt en rooikool (bl 94); en seebamboeswoud met swartolyfpastablare, soutgedroogde snoekkuite en seeslaai (bl 83).

Vyf jaar later kan hy selfversekerd sy bydrae lewer tot ons groeiende kookboekskatkis in Suid-Afrika en ek raai die leser aan: koop dit. Koester dit. En as dit jou beskore is, besoek Oep ve Koep vir die kossensasie van ’n leeftyd.

The post Resensie: Strandveldfood deur Kobus van der Merwe appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 176


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>